
Jill Price vra wanneer ek gebore is en ek sê 24 Januarie 1968.
‘‘Goed. In 1988 was jy twintig, in 1986 was jy agttien. Ek kan jou sê ek het op 24 Januarie 1986 in ’n roomyswinkel gewerk. Dit was ’n Vrydag. Ek het pas twintig geword. Dit was vier dae voor die Challenger-ontploffing. Ek het my werk gehaat en die Saterdagaand saam met Tim en Candace uitgegaan.’’
Sy kan my waarskynlik ook vertel wat sy geëet het, wat die ander bestel het en hoe laat sy by die huis gekom het.
Kan jy onthou wat jy presies op enige gegewe oomblik op enige gegewe dag tien, twintig of selfs dertig jaar gelede gedoen, gesien en gesê het?
Jill kan. Maar is dit ’n gawe of ’n vloek?
Die meeste van ons kan wanneer ons ons lewensverhaal skryf, weglaat wat te pynlik of onbelangrik is en kies wat ons wil insluit. Maar daar is ’n reuse verskil tussen onthou en ’n onvermoë om te vergeet.
Stel jou voor jy kon nie kies watter herinnering jy wil bewaar of vergeet nie. Jill kan nie haar herinneringe redigeer nie; die pynlikes en onaangenames uit haar tienerjare is nog so helder asof dit pas gebeur het. Geen wonder sy voel haar geheue hou haar as gyselaar nie.
Haar toestand is so seldsaam dat dokters dit nog net by ’n handvol mense gediagnoseer het en ’n naam daarvoor moes skep: superieure outobiografiese geheue of hipertimestiese sindroom – ’n alledaagse lewe wat deur detail uit sy verlede oorweldig word.
Lees meer oor Jill se seldsame toestand in Huisgenoot van 11 Desember.