Friday, 19 December 2008

Warm skone uit die koue


Die syfers is indrukwekkend: meer as ’n biljoen kykers in 187 lande, meer as 580 kledingstukke en bykomstighede aan 109 skoonhede se lyf, die skeppings van dertig modeontwerpers en twintig juweliers en vervaardigers van bykomstighede op ’n verhoog vol sterre . . . en dan praat ons nie eens van die mates van die aanspraakmakers op die titel van Mej. Wêreld 2008 nie!

Alles in ag genome was die kroningsgeleentheid in die Sandton-konferensiesentrum ’n glansryke aand – al het dit ongelukkig nie sonder ’n paar haakplekke verloop nie.

Mej. Rusland, Ksenija Soekhinova, ’n 21-jarige blondine met ’n breë glimlag, vlekkelose vel en donker oë, het met die kroon weggestap. Ons eie Tansey Coetzee het die topvyf gehaal en was van die eerste deelnemers wat Ksenija gelukgewens het nadat sy as die wenner aangewys is. Die Rus het stralend geglimlag toe Julia Morley, hoofbestuurder van die Mej. Wêreld-kompetisie, haar naam uitroep.

‘‘Ek wil mense graag help en as Mej. Wêreld kan ek dit doen,’’ het die Siberiese skoonheid deur ’n tolk gesê. Sy het ook gesê haar leuse in die lewe is ‘‘respekteer die mense om jou en mense sal jou respekteer’’.

Hierdie ingenieurswese-student van 1,78 m is een van ’n handjievol deelnemers wat glad nie sou omgee as die kompetisie soos aanvanklik beplan in Kiëf gehou is nie. Dit is ter elfder ure na Johannesburg verskuif weens die konflik tussen die buurlande Rusland en Georgië.

‘‘Maar ek was nie bang nie,’’ het sy almal dapper verseker.

Die kompetisie word aanstaande jaar weer in Johannesburg aangebied nadat die organiseerders se bod suksesvol was om dit twee opeenvolgende jare hier te hou.

Lees meer oor die kompetisie en die skoonhede in Huisgenoot van 25 Desember.