
Om dag ná dag in die hof na die agterkant van haar man se kop met die ál yler wordende hare te moet sit en kyk en te hoor hoe hulle hom uitmekaar wil trek . . .
Om snags uit nog ’n nagmerrie wakker te skrik en te besef dit is geen droom nie, maar steeds die knaende, nare werklikheid wat nou meer as vyf jaar aanhou . . .
By die huis van die gewese Springbok-krieketspeler Garth le Roux op die spoglandgoed Fancourt in George is sy vrou, Tina, die een oomblik hartseer, dan moedeloos en dan siedend oor ‘‘die hel waardeur ons gesit is’’.
Op 46 van 49 klagte van belastingbedrog en diefstal het haar man sy onskuld bewys, maar vir die ander drie wil hulle hom nou tronk toe stuur.
Dit breek haar hart dat die kinders vra of dit hul laaste Kersfees saam is . . .
Sy slaap nie meer nie, want sy hoor hoe hul pa worstel, nat van die sweet swaar asemhaal. In die donker sit sy dan telkens haar arm om hom en bid vir die soveelste keer: Here, asseblief, ek weet u sal ons hierdeur dra. U weet hy’s onskuldig.
Garth le Roux (53), op sy dag ’n verskrikking as snelbouler op die veld, die sportheld met die onkreukbare verlede, is pas tot ses jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in die Wynbergse streekhof skuldig bevind is aan drie klagte van bedrog.
Maar die Le Rouxs gaan nie lê nie – hulle sal nou in ’n hoër hof voortveg om Garth se naam skoon te kry.
Die klagte waaroor hy nou gevonnis is, gaan oor ’n bedrag van R633 947. ’n Spesiale belastinghof moes besluit of hy dié bedrag werklik verskuldig is of nie, sê Tina – ‘‘maar die hof het nog nooit gesit nie. Nogtans het Garth te alle tye saamgewerk en dié bedrag in 2004 inbetaal, hangende die beslissing van die belastinghof of hulle dit mag hou of moet teruggee’’.
Lees meer oor Garth le Roux se stryd in Huisgenoot van 25 Desember.