Friday, 05 December 2008

Tel jou woorde


Hier is jou kans om in jou familie se goeie boekies te kom – ons kyk in die uitgawe van 11 Desember na verskillende boeke wat alle ouderdomsgroepe gelukkig sal hou. Hier is enkele voorbeelde:

Tot drie jaar
Otto se Kleure, Vorms en Getalle – Eric Hill (R125)
Otto is al meer as 25 jaar lank ’n gunsteling onder kinders én grootmense. Dit is waardevolle vermaak vir beginnerlesers. Vind alles saam met Otto en sy maats in dié lekker, vrolike boek.

Drie tot vyf jaar
Winnie-die-Pooh – A.A. Milne (Vertaal deur Alba Bouwer)
(R89)
Winnie-die-Pooh is ’n tydlose storie wat al van 1926 af deur kleingoed gelees word. Dit vertel van die wêreld se gunste-ling-beertjie en die Afrikaanse vertaling is ’n moet.

Vyf tot nege jaar
Rondom die Wêreld in 80 Stories – Saviour Pirotta (R182)
As jy nog altyd wou hê jou kind moet meer oor die wêreld leer, is hierdie boek nommerpas. Dis ’n betowerende storiereis deur tagtig verskillende kulture.

Tien tot twaalf jaar
Die Trompie-reeks – Topsy Smith (R67 per boek) en Die Saartjie-reeks – Bettie Naudé (R62 per boek)
Oud maar nog nie koud nie! As Ma of Pa self met die avonture en kattekwaad van Trompie en Saartjie grootgeword het, sal hulle weet dié boeke hoort op elke kind se rak.

Dertien tot sestien jaar
The Twilight-Saga – Stephenie Meyer (R1 354 vir vier boeke)
Romanse, spanning en ’n paar vampiere – wat meer kan ’n boekwurm begeer? Die reeks sluit in Twilight, New Moon, Eclipse en die nuutste, Breaking Dawn.

Volwassenes
13 Uur – Deon Meyer (R164)
Insp. Bennie Griesel het moordsake om te ondersoek en moet spook om die volgende moord te keer. En sy persoonlike lewe is nie juis rustiger nie. Die bekroonde en internasionaal bekende skrywer se nuwe spanningsverhaal hoort in elke Kerskous.

Lees Huisgenoot van 11 Desember vir nog voorstelle oor boeke wat jy as geskenke kan gee.