
Dit is drieuur in die oggend en die melodie van Beethoven se Negende Simfonie sweef uit die luukse suite in The Palace in Sun City. Die vrou agter die klawerbord bruis van opgewondenheid – uitgeput ofte nie, vanaand kan sy maar vergeet van slaap.
‘‘Ek het nog nooit voorheen ’n vleuelklavier bespeel nie,’’ sê Tatum Keshwar. ‘‘Daar was een in die sitkamer van my suite, toe besluit ek om die klawers te kielie . . .’’
Uiteindelik het sy genoeg afgewen om tog te gaan inkruip – en toe sy die volgende oggend wakker word, val haar oë heel eerste op die tanzanietkroon en skouerband wat sy die vorige aand gewen het.
Tatum Keshwar se kroning as Mej. Suid-Afrika is die verwesenliking van ’n droom wat sy al van haar negende jaar af koester, die jaar toe Amy Kleinhans die titel gewen het, vertel sy.
Haar ma het na ’n optog van Mej. Suid-Afrika-finaliste in Durban gaan kyk, Amy gesien en vir haar mooi dogtertjie vertel van die langbeen-skoonheid wat kop en skouers bo almal uitgestaan het.
‘‘Ek was uitgeboul,’’ sê Tatum. ‘‘Ek het besef ’n bruin meisie soos ek kan ’n ikoon word. Skielik het dit na ’n werklikheid gelyk, iets waarna ek kon streef.’’
Die 25-jarige skoonheid van Durban het in 2005 vir die eerste keer aan die kompetisie deelgeneem, die jaar toe Thuli Sithole gewen het. Maar met volharding, groter rypheid en selfvertroue was die tiara dié keer hare.
‘‘Ek was destyds nie gereed nie,’’ sê sy. ‘‘Ek het die fout gemaak om my persoonlikheid te onderdruk. Dié keer het ek geweet waarvoor ek my inlaat. Ek het gehoop, ek het gebid, ek het gehuil en ek het dit gekry.’’
Lees meer oor Suid-Afrika se mooiste in Huisgenoot van 1 Januarie.