
In die drukkende dynserigheid van die Hoëveld maak Cameron van der Burgh reg om in die swembad in te duik. Sy lyf is lenig, sy heupe smal en sy skouers breed. Hy trek ’n swempet oor sy kop, verstel sy swembril en slaan bolmakiesie tot in die water.
En hy swem. Een lengte in die swembad van 50 m word vier, en vier word tagtig teen die einde van sy oggend-oefensessie.
Tot nou die dag het min mense geweet wie hy is, maar nadat hy ’n paar weke gelede in Moskou vyf nuwe rekords opgestel het – waaronder twee wêreldrekords – staan sake nou baie anders.
‘‘Wat my die blyste maak, is dat ek die eerste plaaslike swemmer is wat ’n wêreldrekord verbeter het sonder dat ek in Amerika gaan oefen het,’’ sê hy. ‘‘Dit was toe nie nodig nie.’’
Op twintig is hy ook die jongste Suid-Afrikaanse swemmer wat ’n wêreldrekord hou. ‘‘Dis ’n bietjie soos om swanger te wees. Jy weet daar gaan die een of ander tyd ’n baba kom, en dan breek jou water. Ek het ál vinniger geswem; daarom het ek geweet ek is daartoe in staat,’’ sê die selfversekerde swemmer.
Hoe voel dit om aan die muur te raak, op te kyk en te sien jy het ’n wêreldrekord agter jou naam? Cameron se groen oë verhelder: ‘‘Woorde kan dit nie beskryf nie. Maar ek het ure later in die bed gelê en steeds ’n simpel glimlag op my gesig gehad.’’
Lees meer oor Suid-Afrika se nuwe swemheld in Huisgenoot van 1 Januarie.