Friday, 12 December 2008

Triiiieng, dis (al weer) vir Tickey


Hy skrik nie sommer as ’n perd hom afgooi nie, maar om ’n vrou te moet teleurstel, is net een te veel vir Tickey van Wyk (34). Soos nou die dag toe die tawwe boer van Loxton in die Noord-Kaap een van sy vroulike kuiergaste moes huis toe stuur in kykNET se gewilde program Boer Soek ’n Vrou.
Ai, dit was ’n ding om ’n man se hart soos ’n droëperske te laat krimp . . .

En daar bly Selme-Louise du Plessis (28) van Nelspruit en Gwennie Gutter (31) van Brandfort toe ewe verdwaas sit toe ’n uiters ongemaklike Tickey boonop met ’n ‘‘oukei, ek is weg’’ na buite storm nadat hy Annelie Strydom (34) van Durban die trekpas gegee het.

‘‘Ek is regtig maar ’n softie wanneer dit by sulke dinge kom; ek wil nie ’n meisie opsetlik seermaak nie,’’ bieg die man wat met ’n volle 258 briewe van potensiële boervroue nou onder die topvier boere in die gewilde TV-program is.

Eers het hy dertig briewe van hoopvolle meisies gekies en oor en oor gelees, vertel hy by ’n gesellige vuur kort voor aandete saam met sy pa, George, en ma, Sandra, op Wolwas-boerdery. Op dié spogplaas van sowat 33 000 ha boer die Van Wyks met skape, wild, nguni-beeste en lusern.

‘‘Nee wat,’’ sê George kamtig ernstig. ‘‘Ek het regtig nie gedink hy sal dit maak nie en hom ’n jaghorlosie belowe as hy die paal haal. Ek moes toe maar die ding koop.’’

En het die meisies nie uitgehaal om indruk te maak nie!

‘‘Iemand het selfs ’n troukaartjie gestuur met ons name daarop. Op ’n ander foto het ’n meisie duim in die lug poseer onder die opskrif Saamrygeleentheid na Loxton, en nog een het ’n DVD-opname gemaak.’’

Lees meer oor die gewilde deelnemer aan die Boer Soek ’n Vrou-kompetisie en al die meisies wat sy aandag wil trek in Huisgenoot van 18 Desember.