Friday, 26 December 2008

Sunny se donker wolk


Op haar dag is haar skoonheid met dié van Grace Kelly vergelyk. Die Amerikaanse sosiale vlinder Sunny von Bülow was blond, asemrowend mooi, elegant en fabelagtig ryk.

Sy is Martha Sharp Crawford gedoop, maar het die bynaam Sunny gekry vanweë haar sonnige geaardheid, en sy het skynbaar alles gehad – behalwe geluk. Toe sy op 6 Desember op 76 jaar sterf – presies 27 jaar, elf maande en vyftien dae nadat sy bewusteloos op haar badkamervloer gekry is en in ’n koma verval het – was sy eintlik maar ’n vergete figuur.

Dieselfde vrou was in die vroeë tagtigerjare die middelpunt van een van die mees sensasionele hofsake van daardie eeu. Die Von Bülow-sage was volmaakte draaiboekmateriaal – daar was drank en dwelms, seks, geld en nogmaals geld.

Dit is die boeiende verhaal van ’n mooi erfgenaam wat meer as ’n derde van haar lewe in ’n koma moes slyt, en van haar Deense pierewaaier-man wat aan poging tot moord skuldig bevind is. Maar Claus von Bülow het nooit ’n dag agter tralies deurgebring nie – in ’n tweede verhoor is hy vrygespreek.

Al was sy in ’n koma, het ’n haarkapper en grimeerkunstenaar die eens flambojante Sunny twee keer per week kom mooimaak in die sorgsentrum in New York waar net haar naaste familielede besoek afgelê het. Claus is die afgelope twintig jaar nie naby haar toegelaat nie.

Die verhaal het Hollywood aangegryp, en onvermydelik is ’n fliek toe gemaak van die boek daaroor, Reversal of Fortune. Glenn Close was Sunny in die fliek van 1990, en Jeremy Irons het ’n Oscar vir sy spel as Claus gewen.

So het iets goeds darem na iemand se kant gekom danksy Sunny se tragiese verhaal . . .

Lees meer oor Sunny von Bülow in Huisgenoot van 1 Januarie.