Friday, 21 November 2008

Wêreld se mooistes in SA


Dis ’n bonus hier kort voor Kersfees: die wêreld se 112 mooiste vroue wat sak en pak op Suid-Afrika toesak om die land ’n maand lank vol te reis voor almal saam op een verhoog in Sandton verskyn by die voorste glansgeleentheid op die internasionale skoonheidskalender, die Mej. Wêreld-kompetisie.

Alles het op bitter kort kennisgewing gebeur nadat onrus in Georgië ’n stokkie gesteek het voor planne om die kompetisie in die Oekraïne te hou, en in net twee maande is daar geskarrel om dinge agtermekaar te kry.

Maar nou het die skoonhede reeds in Johannesburg geland om die land vol te rits en ook liefdadigheidswerk te doen. En op 13 Desember gaan alle oë op die Sandton-konferensiesentrum wees wanneer die wêreld se mooiste vrou daar aangewys word . . .

Die kompetisie is al vyf keer tevore in Suid-Afrika aangebied, die laaste keer in 2001 by Sun City toe Agbani Darego van Nigerië die eerste swart Afrikaan geword het wat die gesogte kroon verower het.

Amy Kleinhans, die voormalige Mej. Suid-Afrika van 1992 wat ’n vyfde plek in die Mej. Wêreld-kompetisie behaal het toe dit daardie jaar by Sun City gehou is, is in ekstase dat die kompetisie nou weer na Suid-Afrika kom.
‘‘Dit is amper soos rugby – dit is wonderlik as jy op jou tuisveld kan meeding,’’ sê sy.

Tansey Coetzee, die huidige Mej. Suid-Afrika, is slaggereed om voor haar tuisskare om die gesogte titel mee te ding. ‘‘Natuurlik is ek opgewonde! Dit gee ons ’n geleentheid om te wys waarvan Suid-Afrika gemaak is,’’ sê sy.

Toe die kompetisie verlede jaar in China aangebied is, het Mej. China, Zhang Zilin, juis die titel daar opgeraap. Voel Tansey dit plaas druk op haar om dieselfde prestasie te behaal?

‘‘Daar is altyd druk, of dit nou in ons land of elders is. Ek werk maar altyd hard. Nou hoop ek net ek sal met die titel wegstap,’’ sê sy.

Penny Coelen het in 1958 so gemaak, toe Anneline Kriel in 1974, en daarna kon geen Suid-Afrikaner dit nog weer regkry nie. Dalk is dit nou weer ons beurt . . .

– Die Mej. Wêreld-kompetisie word op 13 Desember van 17:00 tot 19:00 op SABC3 uitgesaai met Top Billing se Tumisho Masha as die aanbieder.