Thursday, 27 November 2008

Gekooi en gekerk


Hy is die afgelope sewe jaar aan sy bed gekluister, maar die wêreld se vetste man het bewys liefde kan alles te bowe kom – al moet hy ook bed en al op ’n vragmotor na die kansel vervoer word.

Die Guinness-wêreldrekordhouer Manuel Uribe en sy meisie, Claudia Solis, het onlangs in hul Mexikaanse tuisdorp, Monterrey, afgehaak. Hy het in 2006 die rekordboeke gehaal toe hy sowat 560 kg geweeg het.

Die 39-jarige bruid se oorlede man is vier jaar gelede dood weens komplikasies wat met vetsug verband hou. Dit is juis danksy hom dat Claudia Manuel (43) ontmoet het – die mans was skoolvriende.

‘‘Hy het altyd van sy vrou gepraat, maar ek het haar nooit ontmoet nie,’’ vertel Manuel. ‘‘Toe hy sterf, het sy vir my die doodstyding gebring. Ek het altyd geweet Claudia is spesiaal – en die noodlot het haar in my lewe gebring.’’

En niks kon die twee uit-mekaar hou nie – nie eens die feit dat hy steeds 310 kg weeg en nie sy bed kan verlaat nie.

Vir hul groot dag is Manuel net so op sy bed 14 km ver op ’n platbakvragmotor na die kerk vervoer. Dit het tien mans sowat twintig minute gekos om Manuel, geklee in ’n wit hemp van sy en met ’n laken om sy bene, van die vragmotor afgelaai te kry.

Claudia, wat 59 kg weeg, het ’n halfuur later in ’n moulose ivoorkleurige rok, tiara en met skokpienk lipstiffie opgedaag.

Sy het eers geweier om met hom te trou tot hy op sy eie kon stap, maar hoewel Manuel tot dusver 250 kg afgeskud het, is die droom nog buite bereik.

Lees meer oor die ongewone troue in Huisgenoot van 4 Desember.