
Dit is ’n sonnige namiddag in Blairgowrie in Randburg en die enkelpa hou ’n ogie oor sy twee kinders waar hulle huiswerk doen.
Elke nou en dan lig die twee hul koppe op en tuur verlangend na die tuin, waar ’n krieketkolf en bal op die grasperk lê en lok. ‘‘Komaan, Pa,’’ sê die elfjarige Siyolo en klap sy boek toe. ‘‘Kom ons gaan speel!’’ Nonceba (9) vat haar pa se hand en sleep hom buitentoe.
‘‘Dit is omtrent al krieket wat ek deesdae speel,’’ sê dr. Mtutuzeli Nyoka met ’n laggie terwyl hy hom regmaak om ’n bal na sy dogter te boul.
Daar was ’n tyd toe hy die openingskolwer vir sy klub in New Brighton in Port Elizabeth was, balle die veld vol geslaan het en daarvan gedroom het om teen die reuse van die krieketwêreld soos Australië en Indië vir sy land te speel. Sy veeleisende mediese studie en sy velkleur het dit verydel – maar nou bevind Mtutuzeli hom in ’n situasie waar hy die drome van talle ander gretige krieketspelers kan help bewaarheid.
As die pas aangestelde president van Krieket Suid-Afrika (KSA) het hy een groot doelwit: om krieket op grondvlak te transformeer.
‘‘Ons wil krieket na die skole terugvat,’’ sê die suksesvolle oor-neus-en-keelarts vir ons. ‘‘Ongelukkig het ons nie genoeg geld om 28 000 skole tegemoet te kom nie en die onderwysdepartement kan nie help nie; daarom moet ons ons hulpbronne maar na enkele skole in voorheen benadeelde gemeenskappe oordra.’’
Die 48-jarige dokter verduidelik hoe hy en ander beamptes van KSA een vlagskipskool in elke gemeenskap in die land wil aanwys en dan ‘‘talentvolle kinders deur daardie een skool kanaliseer. Ons sal onderwysers oplei wat afrigters wil wees en ’n bietjie toerusting voorsien.’’
Mense dink dikwels aan sokker as die swart kinders se sport, en aan krieket as ’n sport wat hoofsaaklik wit kinders speel. ‘‘Maar dit is stereotipering en ons moet daarvan wegbeweeg,’’ sê hy.
Lees meer oor die nuwe krieketbaas se planne in Huisgenoot van 4 Desember.