Friday, 07 November 2008

’n Sege vir verandering


Toe Amerikaners op 4 November oorweldigend gestem het vir die Demokraat Barack Obama as hul leier, het mense feesgevier en trane weggevee, van Kenia tot in Chicago, waar 120 000 mense saamgekom het om te hoor hoe die aangewese president die koms van ’n nuwe gees in Amerika begroet en vir sy dogters ’n klein hondjie vir die Withuis belowe.

Barack Obama aanbid sy vrou, Michelle, ’n gedugte prokureur uit ’n werkersklasagtergrond wat sy voete vierkant op die grond hou. Sy het al skertsend onthul hoe hy sy sokkies op die vloer los en glad nie daarvan hou om sy bed op te maak nie. Sy groot kwelling met sy toetrede tot die wedloop om die presidentskap was die invloed wat dit op Michelle en hul twee dogters, Malia (10) en Sasha (7), sou hê.

Die enigste kere dat Obama tydens sy veldtog kwaad geword het, was dan ook toe sy politieke mededingers klippe na sy vrou begin gooi het. In onderhoude het hy ’n paar keer gesê hoe spyt hy is omdat hy nie meer sy dogters skool toe kan neem of kon gaan kyk hoe hulle Saterdae sport beoefen nie.

Die feit dat hy ’n pa is, het ook sy politieke sienswyses gevorm. In sy boek het hy geskryf: ‘Ons sou nie skole geduld het wat nie goeie onderrig verskaf nie as ons gedink het die kinders daarin is soos ons kinders nie.’ En in ’n toespraak het hy gesê: ‘As daar ’n kind in die suide van Chicago is wat nie kan lees nie, maak dit vir my saak, al is dit nie my kind nie.’ Of soos ons in Afrika sê: Dit kos ’n dorp om ’n kind groot te maak . . .

Wedersydse respek is ’n grondbeginsel in Obama se wêreld, soos die idee dat ons verantwoordelikheid deel vir mekaar se welstand. ‘Laat ons ons broer se oppasser wees,’ het hy in sy beroemde toespraak oor rassisme gesê.

In die presidentsverkiesing het sy kritici gekla hy is ‘te haastig’ om die wêreld te verander. Meneer die president, die wêreld kan nie wag nie!

– Lees meer oor die eerste swart president van Amerika in Huisgenoot van 13 November.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.