
Renegade, Renaissance, Radiance en Rosebud is op pad Withuis toe, en Renaissance het klaar planne om die herehuis met sy 132 vertrekke ’n ietwat lewendiger Afro-Amerikaanse geur te gee.
Radiance en Rosebud gaan hul eie sokkieskaatshelling, rolprentteater en ’n persoonlike sjef hê, terwyl Renegade op ’n baan wat spesiaal vir hom gebou sal word, basketbal sal kan speel voor hy na die Oval Office toe gaan.
Dit is wat voorlê vir die vier R’s – die Amerikaanse geheime diens se kodename vir die Obamas – wanneer die toekomstige presidentsgesin die mees beskermde viertal ter wêreld word.
Vir Barack en Michelle Obama en hul dogters, Malia (10) en Sasha (7), sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie. Dit was duidelik die oomblik toe die 47-jarige aangewese president in Chicago op die verhoog stap om sy aangrypende aanvaardingstoespraak agter ’n afskorting van 2,5 m hoë koeëlvaste glas te lewer.
Barack sal nie meer alleen toilet toe kan gaan nie en elke keer dat hy êrens heen reis, sal twaalf identiese motors met hom saampiekel sodat moontlike sluipmoordenaars nie weet in watter een hy is nie. Hy sal twee paniekknoppies kry – een vir sy sak en een vir sy bedkassie – ingeval hy sy kommando lyfwagte moet ontbied.
Michelle sal haar eie wagte hê en van die geheime diens se manne sal naby bly wanneer Malia (Radiance) en Sasha (Rosebud) by die skool is omdat daar ’n wesenlike gevaar bestaan dat hulle ontvoer kan word.
Die dae toe die gesin by McDonald’s of hul gunsteling-pizzaplek ingedraf het, is ook iets van die verlede. Hulle sal wel 25 Withuis-sjefs byderhand hê om enige gereg op te tower waarvoor hulle lus het. Daar is ook ’n soetgebak-sjef wat reg staan om ’n eetbare weergawe te skep van enige storieboekkarakter wat Malia en Sasha sou wou hê.
Maar Michelle wil toesien dat die meisies se lewe so gewoon moontlik is. Malia en Sasha sal elke dag hul wekkers moet stel vir opstaantyd en self hul beddens opmaak. Hulle mag net ’n uur per dag televisie kyk, kry $1 (R10) sakgeld per week en slaaptyd is halfnege saans.
– Lees in Huisgenoot van 20 November meer oor wat op Capitol Hill vir die Obamas wag.