Friday, 21 November 2008

Verskrikking in die Kongo


Vyf jaar nadat die burgeroorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) amptelik beëindig is, het hernude gevegte in die ooste van die land uitgebreek. En vir die mense van dié groot land in Sentraal-Afrika het die verskrikking van voor af begin.

Mense praat van die oorlog wat van 1998 tot 2003 gewoed het as Afrika se Wêreldoorlog omdat sewe lande daarby betrokke was en dit meer as 5 miljoen lewens geëis het, meer as enige ander konflik sedert die Tweede Wêreldoorlog. Maar hulle kan dit net sowel die Oorlog sonder Einde noem.

Hoewel ’n demokratiese verkiesing in 2006 in die DRK gehou is, was die vrede wat daarop gevolg het, maar wankelrig, en het daar maar elke nou en dan weer gevegte uitgebreek. Veral in die ooste, soos nou weer.

Maar nou het die damwal gebreek. Amper ’n kwartmiljoen mense is ontwortel sedert 28 Augustus toe rebelletroepe opgeruk het na Goma, hoofstad van die noordelike provinsie Kivu, regeringsoldate laat terugval het en die VN-vredesmag Monuc in wanorde gelaat het, magteloos om burgerlikes te beskerm.

Die man wat die kruitvat laat ontplof het, is die afvallige genl. Laurent Nkunda, leier van die Nasionale Kongres vir die Verdediging van die Bevolking (CNDP), ’n charismatiese Christen en selfaangestelde redder van die Tutsi-minderheid.

‘‘Dit berus by my om my mense te beskerm,’’ het hy vir die media gesê. ‘‘Dit is nie ’n kwessie van mag nie, dit is ’n kwessie van reg. As hulle Goma nie kan beveilig nie, sal ek dit gaan doen.’’

‘‘Hulle’’ is die FARDC, soldate van die DRK se pres. Joseph Kabila. Nkunda sê hulle het versuim om sy mense te beskerm teen Hutu-militante wat in die oostelike deel van die DRK optree.

Dit is ’n ingewikkelde situasie. Nkunda wil hê die internasionale gemeenskap moet gesprekke met pres. Kabila bemiddel oor die ontwapening van die Interahamwe – Hutu’s wat uit Rwanda gevlug het, net om ’n nuwe Tutsi-vyand in die ooste van die DRK te vind.

Gebeur sulke gesprekke nie, dreig Nkunda, sal hy na die hoofstad, Kinshasa, opruk en pres. Kabila se regering omverwerp.

– Lees in Huisgenoot van 27 November meer oor die konflik in die DRK en hoe dit Suid-Afrika raak.