
Dit is vir hom wonderlik om te weet dat, ses jaar nadat die eerste Mr. Bones op die silwerdoek was, mense steeds dié koninklike bossiekop-toordokter so goed onthou. Met die verfilming van die vervolgrolprent Mr. Bones 2: Back from the Past moes hy seker 5 000 keer vir ’n foto poseer, vertel Leon Schuster.
Almal wou net ’n stukkie van Mr Bones hê. Nie dat hy omgee nie – hy hoop net die fliek is net so suksesvol soos die eerste een. Want dit sit nie in enige toordokter se knopkierie om die sukses van die eerste Mr Bones te oortref nie. Dit het ’n volle R33 miljoen in Suid-Afrikaanse fliekteaters verdien – maar as jy so na Leon luister, klink dit asof die vervolg nog beter en groter gaan wees . . .
Ná die sukses van die eerste fliek in 2001 het hy geweet hy wil ’n vervolgfliek maak. ‘‘Maar ons kon nie die Amerikaanse akteurs van die eerste een weer bekostig nie, en ek moes aan ’n storie dink wat hulle nie weer betrek nie,’’ sê die akteur en vervaardiger wat al elf flieks agter sy naam het.
Hulle wou aanvanklik die vervolg in Indië verfilm omdat hy ’n groot aanhang daar het, verklap hy. Mr Bones is daar op DVD uitgereik. ‘‘Ek wou ’n soort Indiana Bones wees, maar om Indiese vervaardigers te kry om betrokke te raak, is so goed soos om ’n boom onderstebo te plant – dit gaan net nie groei nie,’’ skerts hy.
Aangesien hulle toe nie in Moembaai kon skiet nie, het hulle besluit op ‘‘Klein Moembaai’’ – Durban.
Die fliek is net so vinnig geskiet soos wat die draaiboek geskryf is. Leon het eers in Oktober verlede jaar begin skryf, en die draaiboek was in Januarie klaar. Hulle het die fliek in net sewe weke verfilm. ‘‘Ek kon baie beter in die Mr Bones-karakter inklim en ek dink my toneelspel is baie beter.’’
Hy meen Mr Bones is baie soos die geliefde tekenprentheld Shrek. En ook ’n bietjie soos James Bond – ’n Bond van die bos. ‘‘Bond het sy pistool, Bones het sy kierie.’’
– Mr Bones 2: Back from the Past begin op 27 November landwyd in flieks draai. Lees meer hieroor in Huisgenoot van 20 November.