Friday, 07 November 2008

Dok op as die liefde afkoel


Dok op as die liefde afkoel

Nege jaar lank het sy haar uitgehou as sy lewensmaat – ten koste van haar eie verdere opleiding ná skool. Sy was beskikbaar om saam met hom te gaan waar en wanneer hy ook al wou.

En al was sy die derde party in die verhouding, het sy bly glo sy sal dalk eendag met haar minnaar voor die kansel staan. Want hy het haar laat verstaan sy huwelik is net ’n front, hy gaan sy vrou los . . .

So het die hof onlangs gehoor in die stryd tussen die fiksheidsinstrukteur Janine van der Vyver en die sanger Steve Hofmeyr in die Johannesburgse hooggeregshof.

Janine en Steve het meer as nege jaar ’n verhouding gehad voor en terwyl die sanger met die aktrise Natasha Sutherland getroud was. Die egpaar het onlangs aangekondig hulle gaan skei.

Janine het twee eise teen Steve ingestel: een van R350 000 omdat hy afbrekend na hul verhouding as ‘popster-afleiding’ verwys het, en een vir kontrakbreuk. Laasgenoemde, van meer as
R1,5 miljoen, is gegrond op ’n ooreenkoms wat hulle volgens Janine aangegaan het waarin Steve onderneem het om vir haar ’n huis te koop en maandelikse finansiële bydraes te gee.

Hy het glo ook gesê hy sou vir haar geld gee sodat sy haar eie fiksheidsateljee kan oprig en ’n motor koop. Anneline Swart-Snijmann, haar prokureur, sê een van die min beloftes wat gerealiseer het, was R100 000 vir die motor.

Steve se prokureurs voer aan Janine het g’n voet om op te staan nie omdat sy geweet het hy is getroud, en hulle het beswaar teen die saak aangeteken. Nou moet die hof besluit of Janine inderdaad ’n saak het. Waarnemende regter George Bizos het op 3 November na albei se regspanne geluister en sal teen 17 November sê of Janine met die dagvaarding kan voortgaan of nie.

Regskenners wag nou om te hoor hoe verloop die jong vrou se poging om haar gewese minnaar te dagvaar. Want slaag haar aansoek, kan dit die weg baan vir ’n derde party in ’n verhouding om ’n getroude man of vrou vir kontrakbreuk te dagvaar.

– Lees meer oor ’n ‘ander vrou’ se regte in Huisgenoot van 13 November.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.