
Sy hare gaan uitval, en hy gaan baie naar word. Maar dis ’n kleinigheid as dit jou lewe kan red, sê Adriaan Nieuwoudt filosofies oor die kanker wat hom getref het en oor dit wat nou voorlê.
Garies se bekendste burger peins oor die chemoterapie wat hy moet ondergaan. Dis die jongste uitdaging vir die man agter daardie kitsrykwordskema wat Suid-Afrikaners twee dekades gelede so verwoed ‘melkkulture’ laat kweek het, maar wat versuur het toe die regering miljoene rande later hokaai roep.
So word dié Namakwalander toe die hoofkarakter in ’n moderne Afrikaanse fabel oor gierigheid, en sy kubuskwekery ’n gerekende voorbeeld van piramideskemas in naslaanwerke internasionaal.
Meer onlangs was daar planne vir ’n kaolienbedryf op sy Garies-familieplaas: ’n kibboets-tipe-konsep, sommer kortweg Kibus. Daarna het hy ’n Afrikaanse Genote-vereniging gestig waardeur Suid-Afrikaners (teen ’n tarief) onreg kon help beveg.
Maar nou sê Mnr. Kubus eers kanker die stryd aan. Adriaan sit regop op ’n stoepstoel ten spyte van die pyn van onder meer ’n operasiesny ‘van my blaas af reg deur my naeltjie sodat hulle al die kliere behoorlik kon ondersoek’. Hy lyk moeg, het ‘14 kg in ses weke verloor’, maar die oë is wakker.
Op 63 was dit sy eerste keer in ’n hospitaal. ‘Tot ses weke gelede was daar geen simptome nie. Toe kry ek laerugpyn. Ek dog eers iets knyp dalk in my rug vas. Ons is hospitaal toe toe ek met my linkerbeen wou trap en van die groot pyn net swik en val,’ vertel Adriaan.
Die probleem lê toe by ’n aangetaste klier. Daar moes vasgestel word of die kanker versprei het. ‘Ons het besluit om een keer oop te maak en behoorlik te kyk.’ Hy moes morfien kry. ‘Voor dié het ek nie geweet wat pyn is nie.’
Die diagnose kon slegter gewees het: ‘Ek het limfoomkanker in die tweede graad. Die dokter sê dis geneesbaar.
‘Ek’t nou eers weer jogurt en mieliepap begin eet. Maar ek’s sterk genoeg vir chemo, die dokters is tevrede, en ek moet nou elke drie weke inkom vir behandeling. Ek kan al ná ses maande kankervry wees!’
– Lees in Huisgenoot van 13 November meer oor die Kubus-koning se kankerstryd.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.