Friday, 21 November 2008

Só kan jy misdaad bekamp


Vergeet van sonde met die bure in Roodekrans, want hier werk almal saam. Soos toe vier bure vroeg verlede jaar koppe bymekaargesit en besluit het om misdaad in dié Johannesburgse voorstad te help vasvat.

‘‘Ons wou nie hê die polisie moet alleen al die werk doen nie; toe stig ons die Roodekrans-buurtwag,’’ vertel Marius Meyer, die huidige voorsitter.

Hy sê misdaad raak almal en as almal in ’n gemeenskap saamwerk, maak dit ’n ongelooflike verskil. ‘‘Ons is die oë en ore van die polisie in Roodekrans en Wilropark en het al amper vyfhonderd lede.’’

Die buurtwag het patrollies wat sewe dae van die week die strate fynkam. Lede gebruik hul eie motor ’n uur op ’n slag en hou hul oë oop vir verdagte mense of voertuie, terwyl voetpatrollies ook daar rondstap.

‘‘Dit maak mense meer bewus van die doen en late van ander in die omgewing. Almal het mekaar se selfoonnommers en dis ’n wonderlike ding in ’n tyd dat baie mense nie eens weet wie langs hulle woon nie,’’ sê Marius.

Hy voeg by die hart en siel van die buurtwag is Joey Preis wat die ‘‘straat-sheriffs’’ organiseer. Elke straat het een wat die mense daar op die hoogte hou van alle gebeure.

Die buurtwag werk saam met die sektor-polisie wat spesifiek in dié gebied werk. Benewens die sekerheidsmaatskappye Chubb en ADT, span van die kerke tot die tuisnywerheid almal saam teen misdaad.

‘‘Die tuisnywerheid het brosjures oor ons in die winkel, van die kerke gee vir ons ’n vergaderplek en maatskappye help met borgskappe vir goed soos kos of koeldrank as ons byeenkom. Dis ongelooflik om mense so nou te sien saamwerk,’’ sê Marius.

Joey sê baie mense besef nie hoe maklik diewe kan toeslaan nie. ‘‘Ons doel is om die gemeenskap te wys hulle moet eenvoudige dinge onthou. Soos om jou hek toe te hou, nie besittings agter op jou motor se sitplek te sit nie en om te gaan kyk wat pla as jou honde blaf.’’

Met ’n maandelikse toekenning vir bure van die maand kry lede erkenning vir hul bydrae teen misdaad.

Lees meer oor hoe hierdie gemeenskap misdaad bestry in Huisgenoot van 27 November.