
Dit was ’n ware Afrika-reis, van die voet van Tafelberg tot in die buitewyke van Londen, deur woestyne en sandstorms, oor rotse en berge, deur riviere en soms daaroor op veerbote – en die hele ent pad in die getroue Rolls.
Vir ’n Afrika-uitdaging in ’n viertrekvoertuig het Mike en Jeanette van Ginkel nie kans gesien nie; hulle is immers al sewentig verby en nie meer lus vir hard sit nie. Toe doen hulle die hele 17 500 km binne sestig dae in hul Silver Spirit Rolls-Royce van 1981.
Die eerste paar kilometer deur hul geboorteland en die laaste stuk deur Europa en Engeland was maklik, maar oor die duisende kilometers deur Afrika vertel dié oupa en ouma van elf kleinkinders staaltjies van oorlaaide veerbote, stadsverkeer erger as enige spitstyd in Johannesburg en selfs ’n lyk in ’n hotelkamer.
Daar was darem ook luukse granietbaddens, vyfsterhotelle met marmervloere en gasvryheid van die kaliber wat ’n mens net in Afrika raakloop. En net soos die hoofkarakter in een van Mike se gunsteling-flieks, 1958 se Ice Cold in Alex, waarin John Mills homself aanspoor met die belofte van ’n yskoue bier by sy eindbestemming in Alexandrië in Egipte, druk Mike en Jeanette ook deur en bestel by dieselfde kroeg in die Metropole-hotel hul oorwinningsbier – ’n lafenis waarvoor hulle met ’n glimlag R150 elk opdok.
‘‘Mike het ’n ruk gelede in ’n tydskrif gelees dat alle ryk mense ongelukkig is, en toe sê hy vir my, weet jy, dit sal nogal lekker wees om dan minstens in styl ongelukkig te wees,’’ vertel Jeanette. Toe voeg sy vinnig by: Nou nie dat hulle ‘‘eintlik so ryk’’ is nie – maar wel deesdae aan herinneringe.
Lees meer oor hierdie rit deur Afrika in Huisgenoot van 4 Desember.