Thursday, 27 November 2008

Geluk met 50 – en jou R20 miljoen


Min vroue vier hul vyftigste verjaardag met ’n nuwe werk met ’n salarispakket van waarskynlik byna R20 miljoen per jaar. Maar dan is Maria Ramos ook nie enige hierjy nie.

Haar aanstelling as uitvoerende hoof van Absa in die jaar dat sy vyftig word, span die kroon op ’n roemryke loopbaan – een wat niemand sou kon voorspel vir die petite Portugese meisietjie wat in 1964 saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer het nie.

En hoe het die klein Maria toe nie almal verras nie! Vandag word sy beskou as een van die mees formidabele sakevroue wat die land nog opgelewer het, en beklee sy die 22ste plek op die invloedryke Amerikaanse saketydskrif Fortune se lys van die vyftig magtigste sakevroue ter wêreld.

Soos dit maar met hoë bome gaan, is die aankondiging dat sy van Maart aan die stuur van Absa sal staan, reeds omstrede.
Want die vrou wat Transnet se sake so mooi reggeruk het, is ook die liefde in die lewe van ons minister van finansies, Trevor Manuel. En hier lê die knoop, sê sommige kritici. Sou dit nie oneties wees dat die hoof van die grootste bank in die land en die minister van finansies bedmaats is nie?

Wat as die regering die land se banke uit ’n verknorsing moet help soos onlangs in Amerika gebeur het? Beteken dit dalk dat Trevor eersdaags gaan bedank as minister van finansies?

Maar praat jy met mense wat dié twee slim sakebreine goed ken, vertel hulle jou Maria en Trevor is ook geseën met sakke vol integriteit.

Hul verhouding het in die laat negentigerjare begin toe Maria direkteur-generaal van finansies was. ‘‘Hulle was en is nog altyd ongelooflik diskreet en sal nooit toelaat dat hul verhouding hul werk beïnvloed nie,’’ sê ’n goeie vriend van die twee. ‘‘In alles wat Trevor en Maria doen, is daar vir hulle net een oorweging – wat die beste is vir Suid-Afrika.’’

Lees meer oor dié formidabele vrou in Huisgenoot van 4 Desember.