
Om op ’n snikhete dag ’n paar honderd meter kafee toe te stap klink na onnodige harde werk. Maar Ryan Sandes van Houtbaai het ’n ultramarathon van 250 km in ’n moordende temperatuur van tot 45 °C met ’n loodswaar rugsak afgelê en steeds sy naaste mededinger met etlike ure geklop.
Die 26-jarige Kapenaar het 150 teenstanders uit dertig lande in die stof laat byt toe hy onlangs ’n internasionale wedloop van sewe dae in die Sahara lag-lag gewen het.
En dit was geen eenmalige gelukskoot nie: In Junie het hy die Gobi-ultramarathon in China met ’n voorsprong van 45 minute gewen.
Dié twee wedlope is deel van die 4 Deserts Race, ’n reeks van vier verskillende wedlope van 250 km elk. Hy moes vroeër vanjaar die eerste, die Atacama Crossing in Chili, misloop weens ’n dybesering. ‘‘Maar ek het met die organiseerders gepraat en gevra of ek steeds aan die Gobi kan deelneem,’’ vertel hy ná die Sahara-wedloop.
Dit was maar een van die hekkies, want daar is baie min borge vir dié sportsoort en Ryan moes self die R60 000 opdok om na China te gaan.
‘‘Ek was min of meer die buiteperd. Niemand het verwag ek sou wen nie – ek ook nie. Dit was baie spesiaal. Met die Sahara was daar meer druk.’’
Daar het Ryan toe begin geskiedenis maak, want met die Sahara ook agter die rug is hy nou die eerste mens tot nog toe wat ál twaalf skofte in die twee wedlope gewen het.
Hy was ook daar met ’n ander doel. Ná sy sege in die Gobi-wedloop het hy ’n borg gekry, en kort voor hy Egipte toe is, het hy besluit om die organisasie Operation Smile South Africa te ondersteun. Hulle samel geld in vir operasies op kinders met ’n gesplete verhemelte.
Sy volgende groot wedloop is volgende Mei in Namibië, en dan wag die moordende Trans 333 km teen die einde van volgende jaar. ‘‘Die Trans is ook in die Sahara, maar baie taaier.’’
Dis beslis nie vir sissies nie – dit klink so reg in Ryan se kraal . . .
– Lees in Huisgenoot van 27 November meer oor dié merkwaardige marathon-man.