Thursday, 13 November 2008

Kankerkind reël haar eie begrafnis


Sy het die briefie al verlede jaar geskryf en dit in ’n boks in die kas tussen haar goedjies gebêre. Dit is waar haar ma moet gaan soek wanneer sy die dag nie meer hier is nie. Dit is waar sy sal kan lees presies hoe die vyftienjarige Danielle Roos vir die wêreld wil tot siens sê.

Danielle het alles netjies neergeskryf: Sy wil in ’n wit rok begrawe word, en haar ma moet die rok self maak. Sy het gekies watter liedjies haar treurende geliefdes in die kerk moet sing en watter familielede haar kis moet dra. Daar moet varkore, botterblomme en klimop in die kerk wees en sy het reeds besluit watter foto op die begrafnisbrief moet kom.

Die emosionele Sollie (39) en Francis (37) het nog nie kans gesien om die briefie wat hul oudste geskryf het, te lees nie. Danielle het hulle ’n maand gelede daarvan vertel. Sy het gesê sy het haar begrafnis daarin beplan sodat hulle nie ná haar dood met die
reëlings hoef te sukkel nie.

Waar sy in die Parkland-kliniek in Springs om haar lewe veg, lyk sy meer na ’n meisietjie van sewe as ’n tiener wat tot twee jaar gelede nog die vinnigste atleet in haar skool was. Sy het die afgelope twee maande 23 kg verloor, en haar blou oë lyk groot en moeg teen haar wasbleek vel. Alles is seer, sê sy.

Ewing-sarkoom, ’n seldsame beenkanker, is in November 2006 by Danielle gediagnoseer. Die lys is lank toe die uitgeputte Francis verduidelik waarheen die kanker oral versprei het. Dit is in haar longe en haar lewer, in haar skouers, haar heupe, ruggraat, ribbes . . .

‘‘Danielle huil baie wanneer die pyn te erg raak, maar sy praat ons moed in. Sy wil nie hê ons moet huil nie, sy raas met ons. Sy sê: ‘Mamma, ek is nie bang om dood te gaan nie.’ Maar sy is bang ons vergeet haar. Dan sê ek: ‘Daar is ’n goue lint tussen ons hart en joune, ons sal altyd aan mekaar vas wees.’ ’’

– Lees meer oor die kankerdeurtrekte Danielle se roerende begrafniswense in Huisgenoot van 20 November.