Thursday, 13 November 2008

Kinderwet bring goeie nuus vir pa’s


Sy was nie te dikwels by die huis nie. Haar werk as lugwaardin het haar aande en soms dae weggehou van haar man en dogtertjie. En toe sy van haar man skei, was dit juis daardie lang ure wat die hof laat besluit het haar driejarige kleuter moet liewer by haar pa bly.

Dis voorlopig net ’n tussentydse bevel tot die skeisaak afgehandel word, maar haar vervreemde man hoop dit sal dan permanent word. Want die pa van Pretoria het sy eie onderneming wat hom in staat stel om sy werktye self te kies en meer tyd saam met hul kind deur te bring. En sy ouers en suster is byderhand as hy hulp nodig sou hê.

’n Paar jaar gelede nog sou ’n pa moes bewys ’n ma is werklik onbevoeg voor die howe so ’n jong kind aan sy sorg sou toevertrou, maar die nuwe Kinderwet het nou alles verander.

Sedert die wet in Julie verlede jaar in werking getree het, geniet albei ouers gelyke regte, verantwoordelikhede en verpligtinge jeens hul kinders.

‘‘ ’n Pa het nou net soveel regte en verantwoordelikhede soos ’n ma, maar baie weet dit nie,’’ sê Martin-Dean Hayward, ’n Pretoriase prokureur wat in familiereg praktiseer. ‘‘ ’n Pa is geregtig op elke liewe reg waarop ’n ma aanspraak kan maak.

‘‘Dit beteken ook die een wat nie die primêre versorger is nie, het net soveel seggenskap en regte soos die ouer by wie die kind bly. En wanneer dit by die egskeiding kom, is daar net een maatstaf wat in die hof geld, en dit is wat in die belang van die kind is. Dit gaan nie oor die ma of die pa nie. Die hof stel die kind eerste,’’ verduidelik hy.

‘‘Die howe begin stadig wegbeweeg van geslag en verwys meer na die begrip ‘ouer’ ’’, sê Martin-Dean. ‘‘Hulle besef ’n man kan net so goed in die behoeftes van ’n kind voorsien as ’n vrou.’’

En vir baie pa’s wat al trane begin afvee het omdat hulle maar aanneem sy kry die kinders, kan die nuus nie beter wees nie.

– Lees in Huisgenoot van 20 November hoe gemaak as jou vrou sak en pak uit die huis trek en die kinders wil saamvat.