
Oktober was allesbehalwe die mooiste maand vir die motorbedryf, veral nie vir die eeu oue General Motors nie.
Midde-in ’n wêreldwye finansiële krisis vra die onttroonde Groot Pappa van motorvervaardigers die VSA-regering toe mos vir ’n reddingsboei van derbiljoene dollars. En Ford, wat toentertyd al die wiele aan die rol gesit het, en Chrysler, derde lid van Detroit se Groot Drie, bedel lustig saam.
Intussen word gevra of die Amerikaanse motorbedryf-moleste in die volgende golf van wêreldwye ekonomiese pyn kan ontaard. En hoe die plaaslike motorbedryf, wat lankal sukkel, daardeur geraak word.
Meer as 25 biljoen dollar. Omtrent R250 biljoen. Dis wat General Motors, Ford en Chrysler vra van die Amerikaanse regering. En dis buiten ’n $25 biljoen-lening wat die Amerikaanse kongres klaar vir die motorbedryf goedgekeur het om die drie te help met fabrieksaanpassings vir meer kleiner, brandstofdoeltreffender motors.
GM se VSA-verkope het verlede maand met 45 persent geval vergeleke met ’n jaar gelede. GM met meer as 250 000 werknemers wêreldwyd – die naasgrootste internasionaal nadat Toyota hom verlede jaar verbygesteek het – vrees hy sal vroeg in 2009 te min kontant hê. Sy aandeelpryse het onlangs die laagste punt in 65 jaar bereik.
Ford in Amerika reken hy het nog genoeg kontant om hom deur aanstaande jaar te help, maar net danksy groot lenings verlede jaar. Dié twee het in die derde kwartaal vanjaar $14,6 biljoen (sowat R146 biljoen) meer bestee as wat hulle ingebring het. Met die kleiner Chrysler gaan dit in Amerika nie beter nie.
Kan die probleme van byvoorbeeld GM in Amerika na Suid-Afrika oorspoel? Ja, maar in geringer mate, sê Tony Twine, motorbedryfontleder en onafhanklike ekonoom van Econometrix. ‘‘By ons is GM en Ford meer ingestel op die Europese en Asiatiese modelle. Dis hul behoud. Ons bedryf doen meestal verslag aan die multinasionale afdelings ver van die Amerikaanse markte.’’
Al wat Tony met sekerheid oor Suid-Afrika kan sê, is dat agteruitgang in die motorbedryf ’n uitwerking op die res van die ekonomie sal hê. ‘‘Die sektor, waaronder die vervaardigings- en monterings-, kleinhandel- en herstelbedryf, dra omtrent 7 persent by tot ons bruto binnelandse produk.’’
– Lees in Huisgenoot van 27 November meer oor die Amerikaanse motorbedryf se probleme.