
Breë, gespierde skouers, bultende boarmspiere, ’n klipharde sespak en lang, gedefinieerde bene – so lyk ’n ware man mos. En ongelukkig dink ál meer tienerseuns ook so . . .
En met die heldeverering wat bonkige rugby-Bokke en gespierde tiener-rolprentsterre soos New Moon se Taylor Lautner en die hartebreker Zac Efron en selfs rofstoeiers geniet, wonder enigiemand nog hoekom tieners meen groter is beter?
Nuwe navorsing onder seuns van 15 tot 19 jaar toon ’n allemintige 84 persent begeer groter lywe, 74 persent glo ’n groot, gespierde lyf sal hulle meer selfvertroue gee – en ’n kommer-wekkende 12 persent het al wettige en onwettige aanvullings gebruik om so te kan lyk.
Dié skokkende bevindings deur Jarred Martin, ’n nagraadse sielkundestudent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, bevestig sport- en leefstylkenners se waarnemings dat ál meer tienerseuns kitsmaniere soek om groter spiere te bou. Baie wend hulle tot onwettige steroïede wat nou maklik op die swartmark, by familie of vriende, sommige gimnasiums of oor die internet te kry is, en ook tot wettige aanvullings wat steeds nie volkome skadeloos nie. En dit terwyl daar wel ’n gesonde en goedkoop alternatief is – eenvoudig dieet en oefening.
Die gebruik van anaboliese steroïede kan byvoorbeeld enigiets van kanker tot vergrote borste en krimpende testes tot gevolg hê, maar tienerseuns is waarskynlik onbewus hiervan.
Steroïede word al jare misbruik en drie jaar gelede het die Pretoriase sportdokter Henry Kelbrick skokkende onthullings gemaak oor wanpraktyke in skolerugby en die vernietigende gevolge hiervan (Geknak – om ’n held te wees, 20 Julie 2006).
Hy het toe vertel van ’n pa wat sy siek seun na hom gebring het. Die kind het simptome van Parkinson se siekte getoon en onbeheersd gebewe – die gevolg van twee inkopiesakke vol aanvullings, onder meer ’n groeihormoon waarmee hy elke dag ingespuit is. Dit het vyf dae in die hospitaal gekos om hom skoon te kry. ‘‘Daar is beslis ’n toename in die gebruik van aanvullings en anaboliese steroïede,” sê dr. Shuaib Manjra van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport. ‘‘Dit is weens druk om beter te lyk. Dis dikwels ’n selfbeeldkwessie.’’
Lees wat kenners sê oor hierdie aanvullings in Huisgenoot van 5 November.