
Hulle wou die meeste uit die laaste Saterdag van hul vakansie haal. Toe besluit Sam Samuels en sy vrou, Jo-Ann, daardie oggend op die ingewing van die oomblik om Graskop toe te ry en die Big Swing-kabelswaai in Panoramakloof te gaan beproef. Die gogga om aan ’n kabel oor duiselingwekkende hoogtes te swaai, het hulle maande tevore gebyt toe hulle hul eerste tandemsprong in Margate in KwaZulu-Natal uitgevoer en ’n sertifikaat huis toe gebring het.
Die paartjie wou weer die adrenalien deur hul are voel bruis . . .
Dit was hul laaste kans voor hulle Maandag moes teruggaan werk toe – Sam (28) na die 7 Suid-Afrikaanse Infanterie-bataljon in Phalaborwa en Jo-Ann (29) na haar onderwyspos by die Hoërskool Frans du Toit op die dorp. Maar toe word die dag wat hulle met soveel geesdrif aan-gepak het, nie net hul laaste vakansie-Saterdag saam nie, maar ook hul heel laaste dag saam – want sekondes nadat hulle hand om die lyf van die Big Swing-platform afgespring het, het iets verskrikliks skeefgeloop. Drie uur later het paramedici Jo-Ann se lyk uit die kloof gehaal en ’n erg beseerde Sam na die Medi-Clinic in Nelspruit geneem.
“Sy was my engel; sy sal altyd my engel bly,” sê Sam drie dae later uit sy bed in die hoësorg-eenheid van die hospitaal. Hy praat moeisaam. Sy een arm is gebreek, sy ribbes is gekraak en sy lyf is vol beserings. As hy praat oor sy vrou met wie hy drie jaar lank getroud was, loop die trane vrylik oor sy wange. Op party vrae skud hy net sy kop terwyl hy op sy lip byt.
Hulle was die dag baie opgewonde, onthou hy. Hulle was albei buitelugmense, lief vir avontuur, altyd reg om nuwe dinge te ervaar en onbekende plekke te verken. “Ons het altyd alles saamgedoen. Ek en Jo-Ann het voluit gelewe. Maar elke keer as ons in ons karretjie geklim het, het ons die Here saam met ons geneem.”
Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 15 Oktober.