
Hoe hulle ’n advertensie vir ’n surrogaat-ma plaas, het hulle vas geglo dat hul jare lange droom om ’n kind saam te hê uiteindelik bewaarheid gaan word. Op 46 het Doret Botha, ’n tipe 1-diabeet, se ouderdom en gesondheid teen haar getel, maar sy wou steeds verskriklik graag vir Leon – met wie sy vyf jaar gelede getroud is – sy eie kind gee.
Toe Claudine du Randt die advertensie lees en instem om die baba vir hulle te dra, het sy gedink sy gee die Bothas die grootste geskenk denkbaar.
Maar nou is sy ses maande swanger en pleks daarvan dat dit ’n verhaal met ’n gelukkige einde is, het dit vir haar én die voornemende ouerpaar in ’n nagmerrie ontaard. ‘‘Ek het eers ná die inseminasie besef ek het met my eie eiersel swanger geraak,’’ sê Claudine, ’n 23-jarige ma in ’n lesbiese verhouding in haar huis in Thabazimbi. ‘‘Ek is nie ten volle oor die proses ingelig nie. Ek gaan beslis nie my kind weggee nie,’’ sê sy terwyl sy beskermend oor haar boepie vryf.
By hul huis in Pretoria is die Bothas net so geskok en hartseer. ‘‘Ons het die hele proses aan haar verduidelik. Sy het ingestem om haar eiersel vir ons te skenk. Hoe sou ek my man se spermselle dan net so weggee sonder om seker te maak sy verstaan die proses?’’ vra Doret en haar oë skiet vol trane. Albei partye glo hulle is geregtig op die kind. En vasgevang in die middel gee die babameisietjie ’n paar skoppe in Claudine se maag, amper asof sy weet van die storm wat oor haar bestaan losgebars het.
Doret en Leon (38) besit saam ’n vervoermaatskappy, en vandat hul verhouding nege jaar gelede begin het, droom hulle al van ’n kind. ‘‘Ons het ’n dokter gaan spreek en hy het surrogaatskap voorgestel. ’n Hele paar mense was bereid om dit vir ons te doen: Leon se niggie, my susterskind en twee ander. Maar elke keer het iets voorgeval.’’
Lees in Huisgenoot van 8 Oktober wat kenners sê oor hierdie netelige kwessie.