Thursday, 15 October 2009

Man slaan kind uit die bloute


Dario Story, staan daar in krom letters bo-aan die vel wit papier geskryf. Die donkerkopseuntjie sit gebukkend met ’n swart viltpen in die hand. Die pen girts oor die papier, en stadig teken die sesjarige die storie wat hy huiwer om vir vreemdelinge te vertel.

Hy gee die tekening vir sy pa, José Pinto (34), en vra hom om te verduidelik. En in die seuntjie se prentjie ontvou die skokkende verhaal wat Dario van ’n sorgelose seuntjie verander het in ’n kind wat skaars in sy eie bed wil slaap. ‘‘Hier het hy en sy niggie gespeel.’’ José wys na twee stokmannetjies. ‘‘Hierdie man met die groot, uitgestrekte hand is die vreemde man wat agter ’n muur uitgespring het. Daar hou hy Dario aan sy hand vas terwyl hy hom slaan. Hier is hy uiteindelik in die tronk.’’

Want Dario glo die man wat hom uit die bloute so aangerand het dat sy handmerke vier dae lank oor sy boudjies en ruggie gelê het, is nou agter tralies. ‘‘Ons het gedink dit is goed om dit vir hom te sê sodat hy berusting kan kry,’’ sê Belinda (32), sy ma. Maar al was hy steeds getraumatiseerd omdat ’n wildvreemdeling hom in ’n vakansieoord skielik aan die arm opgetel en met die plathand geslaan het, wou hy steeds met kinderlike onskuld weet: ‘‘Sal die man oukei wees in die tronk, Mamma?’’

Toe die Pinto-gesin byna twee maande gelede saam met familie vir die naweek na die Kwa-Maritane-vakansieoord naby Sun City is, het hulle nooit kon droom wat wag nie. Dario kry steeds speelterapie om hom te help om die gebeure van 21 Augustus te verwerk, terwyl ook sy ouers met tergende vrae worstel.

‘‘Ons wou die kinders bederf met ’n lekker naweek en het na die vierster-oord gegaan,’’ vertel José, ’n woonbuurt-ontwikkelaar van Edenvale in Johannesburg. Toe hy teen die Vrydagaand sewe-uur die braaivleisvuur aan die gang kry, het Dario, sy sussie, Sienna (2), en hul niggies Jordyn (7) en Taylin (4) reeds met van die ander kinders maatjies gemaak.

Lees in Huisgenoot van 22 Oktober wat regskenners sê oor hierdie voorval.