Friday, 23 October 2009

Ouboet (10) red sy boetie (2)


Dis ’n sonnige middag en twee jong seuns is aan die speel. Die ouer seun trek sy boetie op ’n swart plastiekbromponie rond en albei lag en skree uitbundig, volkome sorgeloos.

So anders was alles nou die dag by dié huis in Kensington, Johannesburg. Toe was dit ’n toneel van wanhoop – enige ouer se ergste nagmerrie.

Vir die Jones-gesin het alles genadiglik goed afgeloop. Hul kosbare tweejarige Ayanda wat so amper gesterf het, is weer die toonbeeld van lewenslus. Maar was dit nie vir sy ouboet, Cochise (10), wat in ’n krisis kopgehou en sy boetie se lewe help red het nie, kon dinge baie anders gewees het.

Cochise – sy naam beteken harde hout in ’n inheemse Amerikaanse taal – vertel van die dag toe sy en sy gesin se wêreld amper in duie gestort het. “Ek het in die tuin saam met maats gespeel nadat ek klaar was met my huiswerk,” begin hy. “Ná ’n rukkie is ons binnetoe geroep. Dis toe dat ek agterkom my broer is weg.”

Ayanda, ’n luidrugtige, bedrywige seuntjie met ’n ondeunde glimlag en krulhare wat soos ’n stralekrans om sy kop staan, was skoonveld. Sy ouboet, dié se maats en die gesin se huiswerkers het al roepend deur die huis gehardloop op soek na die tweejarige.

Cochise, ’n gr. 5-leerder aan die Voorbereidingskool St. James in Johannesburg, het op die stoep uitgehardloop, afgekyk na die swembad en iets aan die vlak kant sien dryf.

“Ek was eers nie seker nie, maar ek het ’n aaklige gevoel gehad dis Ayanda. Ek het afgehardloop daarheen, ingespring en hom uitgetrek,” vertel hy.

Cochise het sy kleinboet omgerol en gesien sy gesig is blou en hy haal nie asem nie. By ’n verdrinking tel elke sekonde en Cochise het
kardiopulmonêre ressusitasie begin toepas. Hy het die tegniek onthou uit prente in die noodhulpboek wat sy pa twee maande tevore gekoop het.

“Ek het Ayanda se bors met my hande afgedruk, nes hulle in die prente wys, en water het uit sy mond gespuit,” sê hy. “Toe’t ek sy bors weer afgedruk en nog water het uitgekom.”

Intussen het ’n huiswerker hul pa, Andrew, bestuurder van ’n
mediaproduksieonderneming skaars vyf minute se ry van die huis af, histeries gebel.

Lees meer oor hierdie dapper seuntjie in Huisgenoot van 28 Oktober.