
Dis soos ’n episode van die TV-reeks The Sopranos, maar helaas is die verhoor van die gewese nasionale polisiehoof Jackie Selebi ’n ware lewensdrama wat die bestaan van ’n Mafia-agtige onderwêreld in Suid-Afrika nou behoorlik oopgevlek het.
Besonderhede oor Jackie se vriendskap met die selferkende dwelmbaas en rampokker Glenn Agliotti wat die afgelope weke in getuienis na vore gekom het, is landwyd met ongeloof begroet. En as Jackie skuldig bevind word aan klagte dat hy korrupte bande met misdadigers gehad het en die gereg gedwarsboom het, sal dit nie net ’n reuse verleentheid vir die regering wees nie, maar ook aansienlike politieke rimpelings veroorsaak.
Die pleitooreenkoms wat Glenn met die Nasionale Vervolgingsgesag gesluit het en wat hom nou in die getuiebank teen sy vriend laat beland het, plaas hom in ’n taai posisie. As die hof bevind sy getuienis is geloofwaardig, word hy kwytgeskeld van klagte van korrupsie, bedrog, diefstal, geldwassery en dwarsboming van die gereg. Verwerp hulle die getuienis van die man wat in die hof erken het hy is ’n leuenaar, moet hy steeds teregstaan. Die hofsaak gaan vir seker nog skokke oplewer, maar tot dusver was dié mense die hoofspelers in die drama.
Die hoofaanklagte teen Jackie is korrupsie en dwarsboming van die gereg. So het hy na bewering van 2000 tot 2005 minstens R1,2 miljoen van sy vriend Glenn ontvang. Sy noue bande met oudpres. Thabo Mbeki het hom vroeër ’n gesogte figuur in die politieke landskap gemaak en gierige sakemense het oor hul voete geval om sy guns te wen. Die klagte is ’n reuse verleentheid vir die land: Hy was ons eerste swart polisiehoof en die eerste Suid-Afrikaanse president van die internasionale polisiediens Interpol. Die hof sal moet beslis in hoe ’n mate Jackie hom laat beïnvloed het, maar in die onderwêreld staan hy glo lankal in Mafia-taal bekend as capo di tutti capi (baas der base).
Lees ook oor van die ander rolspelers in die saak in Huisgenoot van 22 Oktober.