Friday, 23 October 2009

Huisroof: Raad wat jou kan red


Hulle weet presies wat in jou huis aangaan – en gebruik waarskynlik inligting teen jou wat jy self aan hulle verskaf het. Dis waarom jy hul opdragte stip moet gehoorsaam as jy ongedeerd wil uitstap.

So sê dr. Rudolph Zinn, ’n kenner in misdaadnavorsing, aan mense wat slagoffers van ’n huisrooftog is. En hy weet waarvan hy praat – hy het dit immers uit misdadigers se mond gehoor.

Rudolph, ’n senior dosent in forensiese ondersoeke by Unisa, het omvattende navorsing oor sulke rooftogte gedoen en onderhoude met 30 veroordeelde misdadigers in Gauteng gevoer oor hul werkwyse, hoe hulle slagoffers kies en wat hulle met gesteelde artikels maak. Hierdeur het hy unieke insig gekry in hoe misdadigers se kop werk en die gevolg is wenke wat slagoffers se lewe kan red.

Moenie vir hulle jok as hulle vra waar jou waardevolle besittings is nie, sê hy. ‘‘Hulle het hul huiswerk gedoen en weet waarskynlik jy het ’n kluis.’’

In 77 persent van rooftogte, het hy bevind, het die misdadigers vooraf inligting bekom oor wat in jou huis aangaan. En dié inligting kom soms van die gesin self. Jy, jou kinders of mense wat vir jou werk, kan on-wetend inligting aan rowers gee wat hulle as beamptes van die SABC, Telkom of die departement van arbeid voordoen. As jy hulle inlaat, het hulle ’n duidelike aanduiding van wat in jou huis aangaan.

Hulle sal deesdae heel waarskynlik na ’n kluis of ander wegsteekplek soek waar daar dalk juwele of kontant kan wees. Hulle het vroeër groot artikels soos klankstelsels en televisiestelle gesteel, maar dit het te gevaarlik geword omdat dit noodwendig verkoop moet word en dus ’n spoor agterlaat.

Voor die aanval word jou huis gewoonlik ’n paar dae lank dopgehou. Net voor hulle inbreek, probeer hulle uitpluis waar elke persoon in die huis is, en elkeen sal ’n slagoffer oorrompel. Een van hulle sal insluip, gewoonlik deur ’n venster, en die deur vir die res oopmaak.

Lees in Huisgenoot van 29 Oktober wat kenners sê oor hoe jy jouself veilig kan hou.