Friday, 09 October 2009

Skei goedkoop op die internet


Jy kan jou kruideniersware aanlyn koop, jou huis verkoop, ’n tweedehandse motor soek en raad kry vir alles van ’n vreemde veluitslag tot verhoudingsprobleme. Waarom dan nie ook sommer aanlyn skei nie?

Dis presies wat ál meer Suid-Afrikaners doen sedert webtuistes soos www.edivorce.co.za en www.divorce2day.co.za die afgelope vier maande bekendgestel is. En dit kos jou net sowat R1 000, ’n fraksie van wat jy gewoonlik vir ’n onbestrede egskeiding sou betaal.

Met ’n selfdoen-egskeiding op die internet spaar jy geld, want jy skakel duur besoeke aan ’n prokureur se kantoor uit as deel van die normaalweg uitputtende en uitgerekte skeiproses. Aanlyn-egskeidings is goeie nuus vir ongelukkig getroude pare wat noodgedwonge die regsproses uitstel tot hulle dit kan bekostig en intussen by aparte slaapkamers intrek terwyl die spanning in die huis en die gesin hoog loop. En dit net omdat hulle nie die R6 000 kan bekostig wat ’n onbestrede egskeiding gewoonlik kos nie. Dit is vir hulle dalk ook moeilik om tyd by die werk af te vra vir ’n hele paar besoeke aan die prokureur.

“As jy ’n egskeiding op die gewone manier aanpak, sal die eerste besoek aan ’n prokureur jou enigiets tussen R500 en R1 500 uit die sak jaag. Dan volg opvolgbesoeke om vorms in te vul en dokumente te onderteken, en ook betaling vir die prokureur om alles by die hof in te lewer,” verduidelik Sharon West, ’n prokureur by Rossouw Prokureurs in Vishoek buite Kaapstad. Sy is aan die stuur van divorce2day.co.za sedert die webtuiste in Julie van stapel gestuur is.

Die neiging om self jou egskeiding aanlyn te behartig het al in die laat negentigerjare in byvoorbeeld Brittanje posgevat en in Suid-Afrika is dit vinnig aan die veld wen. Die webtuiste eDivorce het al meer as 40 kliënte op hul lys – en hulle is eers verlede maand bekendgestel. Maar dit beteken darem nie jy kan nou met die klik van ’n muis skei nie. Webtuistes vir aanlyn-egskeidings is net vir onbestrede sake bedoel.

Nog inligting oor hierdie diens in Huisgenoot van 15 Oktober.