Friday, 30 October 2009

Maak geld uit 2010 – verhuur kamers!


Eers was die visier van Fifa se agente meestal op hotelkamers en plek-plek ander gegradeerde verblyf, terwyl Suid-Afrikaanse amptenare die wêreld kort-kort verseker het dat ons genoeg blyplek sal hê vir die honderdduisende sokkergeesdriftiges wat aanstaande jaar vir die Wêreldbekertoernooi op ons gaan toesak.

Maar die prentjie begin nou anders lyk . . . Met plaaslike hotelle en ander blyplekke wat nie al hul kamers aan Fifa se verblyfagente beskikbaar wou stel nie en die kommer dat sokker-toeriste dalk volgende jaar dakloos hier gaan rondswerf, het hulle graderingsvereistes verslap en die verblyfnet ook na buurlande en Mauritius versprei.

In die kuberruim bemark gewone mense verblyf dat dit klap en kenners verwag ’n vlaag finale verblyfreëlings in Desember wanneer sokkerondersteuners presies sal weet wie waar en wanneer speel. Van eiendomsagentskappe tot doodgewone mense sien skielik ’n kans om ’n lekker geldjie in die Wêreldbeker-maand van 11 Junie tot 11 Julie aanstaande jaar te verdien.

Match is Fifa se amptelike verblyfverskaffer, maar sy prioriteite strook stellig nie met iedere sokkertoeris s’n nie.

Vir die gewone ou is dit dalk ’n kans om ’n heel skaflike R1 000 per persoon per dag in sy eie huis te verdien . . .

Match sou sedert einde verlede maand aanlyn by Fifa.com verblyf aan die “algemene publiek” in alles van hotels en gastehuise tot bed-en-ontbytplekke te koop aanbied.

Maar sokkertoeriste wat net hul kop êrens wil neerlê, sal nie noodwendig net daar wil bespreek nie. Dis waar gewone huiseienaars dalk ’n mini-2010-slag kan slaan.

En dis ’n stewige klomp mense wat blyplek gaan soek – ’n geraamde 450 000 “internasionale aankomelinge’’ en dan ook plaaslike sokkertoeriste, tot soveel as 2 miljoen.

Goed die helfte van die buitelanders sal Fifa se mense en ander met Fifa-bande wees, sê Thembi Kunene, hoof van ons toerisme-graderingsraad. Uiteraard sal dié mense Suid-Afrika nie almal tegelyktydig soos ’n tsoenami tref nie. Hulle sal tipies vir ’n week of 10 dae kom.

Maar plaaslike toeskouers in stadions of in gasheerstede se kyk-en-jol-kolle sal uiteraard ook in baie gevalle blyplek nodig hê.

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 5 November.