Friday, 23 October 2009

Absa se Steve sing ʼn nuwe lied


Vandag, môre, altyd saam – vir Steve Booysen was dit meer as ’n blote reklameslagspreuk; dit was die leuse waarvolgens hy amper die helfte van sy lewe gelei het. Maar deesdae beteken ‘‘vandag’’ vir hierdie voormalige uitvoerende hoof van Absa om sy drome uit te leef en ‘‘môre’’ om jong sangers hul CD’s op die rakke te help kry.

‘‘Die een dag het ek nog teen 180 km per uur geleef, en die volgende dag was dit teen nul km per uur,’’ vertel die man wie se loopbaan vroeër vanjaar ná 21 jaar by hierdie bankgroep tot ’n einde gekom het. Maar vir hom was die einde van sy loopbaan by Absa net die begin daarvan om sy drome uit te leef: Steve het nou sy eie musiekmaatskappy en het verskeie kunstenaars gevra om liedjies van sy keuse op ’n CD op te neem. Dit word binnekort uitgereik. Daarby soek hy ook na nuwe sangtalent.

Hy gebruik duidelik nou die ondervinding wat hy sy laaste vier en ’n half jaar in die bankwese as uitvoerende hoof van Absa opgedoen het om die beste van sy musiekdrome te maak.

‘‘Ek was nog altyd lief vir musiek en die nuwe CD lê my na aan die hart. Agter elke liedjie is ’n storie – en dit is wat dit vir my so besonders maak,’’ vertel die aantreklike 46-jarige man met die grys spikkels in sy hare.

Al sit hy nou ontspanne in die Irene Country Lodge in Pretoria, kan jy jou Steve maklik voor ’n volgepakte konferensielokaal voorstel: Hy weeg eers sy antwoorde op, maak beheerste handgebare en spreek sy woorde met gesag uit. Maar kort voor lank sien jy die duiweltjies in sy oë raak. En as hy vertel hoe hy liedjies soos Lady Gaga se Pokerface in die konferensielokaal gespeel het voor hy jaarverslae voorgelê het, is dit duidelik die sprong van finansies na musiek is vir hom doodnatuurlik.

Hy glo immers die mens is die mees aanpasbare wese op aarde en kan enigiets hanteer wat oor sy pad kom.

Lees meer oor Steve se planne in Huisgenoot van 29 Oktober.