
Net drie jaar gelede nog toe byna die helfte meer motors in Suid-Afrika verkoop is as nou, sou niemand dit kon voorsien nie. Maar onlangs moes plaaslike motorvervaardigers dié waarskuwing hoor: Tensy verskeie uitdagings dringend aandag kry, het Suid-Afrika dalk binne ’n dekade nie ’n motorvervaardigingsbedryf nie.
Suid-Afrikaners was half oorbluf by die aanhoor van dié nuus. Maar is dit eintlik maar net ’n gegrom om ons mense tot groter mededingendheid aan te spoor? Hoe groot is die motorbedryf se nood werklik? Wêreldwyd word baie minder motors verkoop weens die resessie en dit kan multinasionale motorvervaardigers dalk net weer laat dink oor hoeveel in Suid-Afrika vervaardig moet word, het David Powels, president van die Nasionale Motorvervaardigersvereniging (Naamsa), by ’n saamtrek van die bedryf gewaarsku. As ons dus nie baie meer mededingend raak nie, het ons dalk oor sewe tot 10 jaar nie meer ’n motorvervaardigingsbedryf om van te praat nie . . .
Hoe staan sake in die motorbedryf?
“Wat die montering van voertuie betref, is daar ’n werklike bedreiging vir van die swakker spelers onder ons sewe vervaardigers,’’ waarsku Tony Twine, motorbedryfontleder en direkteur van Econometrix.
“Die goeie uitvoer van 2008 was eers ’n buffer, maar dis nou verby. Die res van die wêreld is ook in die knyp. ’n Reus soos GM in Amerika is bankrot en Chrysler is nou in Italiaanse besit . . . dit sou twee jaar gelede ondenkbaar gewees het.”
Volgens Naamsa het 2009 in ’n uiters moeilike jaar vir die plaaslike motorbedryf ontaard. Al sy sektore – voertuigproduksie, onderdelevervaardiging en kleinhandel – ondervind “ongehoorde uitdagings”. Maar daar is tog tekens van hoop. Daar is duidelike aanduidings dat die verkope van nuwe voertuie nie verder sal daal nie en begin stabiliseer het, sê Nico Vermeulen, Naamsa se uitvoerende hoof. “Ons kan dalk einde vanjaar of begin volgende jaar ’n geringe verbetering begin sien. Ons verwag ’n geleidelike herstel.”
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 22 Oktober.