Friday, 02 October 2009

Eksklusief: Hoofseun se selfmoord


Sy het daardie geluid al so goed geken en elke keer het dit aan haar hart geruk. Wanneer haar tienerseun met sy lang, fris jongmanslyf en nog swaarder gemoed op haar dubbelbed kom neerplof, het die bekommerde ma geweet sy donker kant is weer besig om die oorhand te kry.

‘‘Miela, wat is fout?’’ sou ’n besorgde Heleen Page dan vra.

‘‘Ek voel weer nie so lekker nie, Mamma,’’ het Emile (17) elke keer geantwoord. Meer woorde was nie nodig nie. Die blonde vrou het geweet wat in haar tienerseun se stormagtige gemoed woed. Sy stoei immers al jare self met depressie en weet watter laagtepunte ’n mens kan bereik. Hoe swaar moet haar jongste dan nie daaraan dra nie?

Nou sal Emile nooit weer op haar bed kom neerval nie. Die siekte het hom – soos soveel ander – finaal laat knak.

Verlede maand het hy homself met sy pa, Pieter (50), se rewolwer doodgeskiet, net ’n maand nadat hy as hoofseun van die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria ingehuldig is. In ’n roerende selfmoordbrief wat ouers landwyd geruk het, skryf hy hy het sy stryd teen die depressiemonster verloor. ‘‘Liewe Mamma en Pappa,’’ begin die brief waarvan Heleen (49) vir ons ’n afskrif by hul huis in Silver Lakes wys. ‘‘Ek is net te moeg en kan dit nie meer hanteer nie. Ja, ek is dood, maar ek is nou op ’n plek waar ek veraltyd (sic) gelukkig kan bly.’’

Twee maande voor sy dood het hy vir sy ouboet, Hendré (21), gesê depressie het vyf jaar van sy lewe gesteel. ‘‘Maar hy het gesê hy het dit nou oorkom en wil hê dit moet iets beteken. Hy wil mense help wat dieselfde deurmaak,’’ vertel Hendré.

Vir Emile is dit nou te laat, maar sy gesin wil dié laaste wens van hom bewaarheid en ’n helpende hand na ander tienerlyers aan depressie uitsteek.

Lees volledige artikel in Huisgenoot van 8 Oktober.