
Die polisie moet skiet om dood te skiet sonder om hulle te bekommer oor wat daarna gebeur. Hulle moet die vuurkrag van misdadigers ewenaar en “dodelike geweld” gebruik, het ons kleurryke nuwe nasionale polisiekommissaris onlangs gesê.
En so het Bheki Cele voortborduur oor daardie verbrande artikel 49 en waarom dit weer moet verander en die polisie se skietmagte uitgebrei moet word. Misdadigers beplan deesdae immers behoorlik, ook “om mense wat in hul pad kom dood te skiet”, het hy verklaar.
Daarenteen moet polisielede wat sulke geweldenaars teëkom, volgens wet eers dink of dit “reg of verkeerd is om te skiet”. Dít terwyl genoemde dienders eintlik moet fokus op wat hier reg voor hulle is en die “jop” moet doen, anders sal hulle sterf.
Ja, ons kommissaris meen klaarblyklik wetgewing plaas ’n las op individue wat dikwels nie kan bekostig om te huiwer voor hulle die sneller trek nie.
En hy was nie die eerste of laaste een wat gereken het die polisie moet eers skiet en later bodder met die vrae nie. Verlede jaar al het Susan Shabangu, toe adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, losgetrek met: “Julle moet die vuilgoed doodmaak as hulle julle of die gemeenskap bedreig.”
En in Junie het Nathi Mthe-thwa, minister van polisie, ook spesifiek gevra dat artikel 49 verander moet word. Heel onlangs spring Susan se opvolger, Fikile Mbalula, toe ook op die wa: “Ons het oorlog verklaar. Ons moet skiet om die skurke dood te maak. Ons sal artikel 49 verander.”
Nou ja, met dié koor skietlustiges begin die buiteland straks al wonder oor ons 2010-tema. Is dit nog Vier Afrika se Menslikheid, of dalk eerder nou Lekker in die Wilde, Wilde Weste? Maar wat presies behels die gewraakte artikel en kan ’n misdaadsituasie soos ons s’n werklik reg geskiet word?
Die Strafproseswet se artikel 49 reguleer die polisie se gebruik van geweld in die uitvoering van hul pligte en dis reeds in 1998 gewysig, verneem ons van dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies.
Meer oor die omstrede artikel 49 in Huisgenoot van 20 Augustus.