
ʼn Sweempie angstigheid omgeef deesdae Balfour se burgemeester, Mabalane “Lefty” Tsotetsi. Hy kan oënskynlik nie in sy kantoor ontspan nie – en die ander mense ook nie in hulle s’n nie. “Ek weet nie wat hom hierheen laat kom het nie,” sê hy, “maar almal in die gebou is nou vernuwe, vol energie.”
Hy praat natuurlik van die verrassingsbesoek van pres. Jacob Zuma wat die kollig op dié dorpie in Mpumalanga laat val het – en veral fel op die dorp se afwesige burgemeester. Lefty was – soos die hele Suid-Afrika seker nou al weet – nie op kantoor toe die presidensiële helikopter nou die dag op die dorp se stowwerige sokkerveld geland en Zuma en sy lyfwagte kom inloer het nie. Hy was siek, sê hy.
Maar dit maak nie saak wat hy van nou af doen nie, hy sal altyd onthou word as die ou vir wie die president gevra het om terug te kom werk toe. En sy sekretaresse, Douwlina Pretorius, sal onthou word as die vrou wat geskok haar bord kos laat val het toe sy die president en sy gevolg in donker pakke by die kantoor sien instap het – maak nie saak hoeveel keer sy dit probeer ontken nie.
Maar Lefty is reg: Daar is ’n gevoel van energie in die plek. Die parkeerterrein – anderkant die vernielde Voortrekkermonument waarvan net ’n voetstuk en ’n gedenkplaat van die brons-ossewa oorgebly het – is van hoek tot kant vol BMW’s en Mercedes-Benze. Dis die motors van die LUR’e van Nelspruit, sê ’n munisipale beampte vir ons.
Sedert Zuma se besoek oorval besoekende LUR’e die burgemeester. “Skielik is Balfour ’n prioriteit,” sê die man. Lefty is so besig, ons kan beslis nie nou ’n onderhoud met hom voer nie. Sedert die president se besoek kry hy skaars tyd om koffie te drink. Hy vergader nou met die LUR’e, sê Mohlalefi Lebotha, die munisipaliteit se kommunikasiebeampte. En nee, ons mag ook nie met Douwlina agter haar lessenaar buite die burgemeester se kantoor praat nie.
’n Paar kilometer verder, in die township Siyathemba, staan mense en gesels terwyl vee om die slaggate in die pad stap. Die klipversperrings en as van uitgebrande buitebande herinner aan die inwoners se gewelddadige protes-optredes toe townships landwyd ontplof het oor die swak dienslewering.
Dis nou stil terwyl die inwoners angstig wag om te sien of pres. Zuma se besoek ’n verskil sal maak. David Mosuwe, ’n uitgesproke gemeenskapsleier, het die president die dag ontmoet en vertel: “Die president se hande is baie sag, asof hulle nog nie veel gewerk het nie. Ek dink hy was besig om te leer terwyl Mandela op Robbeneiland klippe gekap het.”
Dan praat hy oor “Mbeki se bende” en hoe sy regering mense uitgesluit het. “Ten minste verstaan Zuma die mense se honger kan nie uitgestel word nie.”
Zuma se onaangekondigde besoek is uit alle oorde geloof as ’n welkome verandering van Thabo Mbeki se afgesonderde ivoortoring-benadering tot sake. En dit het Msholozi se beeld as ’n man van die mense verstewig. “Maar ons sal moet wag en kyk wat gebeur,” sê David. “Hy het beloftes gemaak en ons verwag hy moet dit nakom.”
Lees in Huisgenoot van 20 Augustus watter impak ʼn presidentsbesoek op ʼn klein dorpie kan hê.