Friday, 07 August 2009

Operasie Regruk


Hy pers sy lippe op mekaar en skud sy kop liggies. Die erkenning kom nie heeltemal sonder huiwering nie. Dan sê hy die woorde wat soveel ander Suid-Afrikaners al gesê het: Die dienslewering in sy woonbuurt (Midrand in Johannesburg) is nie heeltemal na wense nie.

En dis nogal iets, komende van die minister in wie se hande die enorme taak nou lê om munisipaliteite en swak dienslewering reg te ruk. Sy portefeulje is ’n mond vol en hy het genoeg probleme op regeringsvlak om hom slapelose nagte te besorg, maar Sicelo Shiceka, die minister belas met koöperatiewe regering en tradisionele sake, het nes ander mense ook sonde met die bure en sy plaaslike munisipaliteit.

‘‘My buurman het elektrisiteit by my gesteel en die laaste agt jaar al word sy elektrisiteitsrekening na my gestuur. Ek weier botweg om dit te betaal, want dis nie regverdig nie,’’ sê die 43-jarige minister wat sedert Oktober die septer swaai hier op die boonste verdieping van die departement van plaaslike regering se hoofkantoor in Pretoria.

Dis die gewone storie: Die plaaslike munisipaliteit het erken dis hul fout, maar agt jaar later word Sicelo steeds daarmee gedreig dat sy elektrisiteit afgesny sal word as hy nie die rekening betaal nie. ’n Diep plooi vorm tussen sy oë en sy stem raak heftig toe hy praat oor hoe dienslewering in sy buurt verswak het.

Destyds, toe hy in 1993 in Midrand ingetrek het, het dinge soos ’n goed geoliede masjien gewerk. ‘‘Midrand het sy eie helikopter gehad wat met die bekamping van misdaad gehelp het. Die beplanningstelsel was sekerlik van die beste in die land,’’ vertel hy.

Maar sedert die buurt jare gelede by die Johannesburgse metropool ingesluit is, het alles verander. ‘‘Midrand is nie meer dieselfde nie. Dinge het agteruitgegaan.’’ Sicelo skroom nie om sy departement se foute te erken nie. In sy ruim kantoor met pres. Jacob Zuma en oudpres. Thabo Mbeki se foto’s teen die muur agter hom, verklaar hy beslis: Korrupsie op plaaslike regeringsvlak sal met wortel en tak uitgeroei word.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 13 Augustus.