
Dit was ná die tweede chemoterapie-behandeling dat sy net in ’n hoekie wou kruip en sterf. Soos die vorige nagte het Wendy Swanepoel haar kussing en duvet badkamer toe gesleep, en wanneer sy nie oor die toilet gehang het nie, het sy net daar in ’n hopie lê en slaap. En toe die wanhoop dreig om haar te verswelg, bel sy haar jonger suster, Norma Crampton. As een mens sou verstaan, was dit Norma.
Aan die ander kant van die telefoonlyn net ’n paar straatblokke verder in Nelspruit was Norma net so dodelik siek, en sy het inderdaad die wanhoop in haar suster se stem maar te goed begryp. Hoe dan anders, as daar skaars drie weke ná mekaar by jou en jou ousus albei aggressiewe borskanker gediagnoseer is?
Kanker was ongelukkig geen vreemdeling in dié gesin nie. Twaalf jaar tevore is hul pa, Tinker Curling, op 66 jaar aan prostaatkanker oorlede, en net ’n paar maande voor hul diagnose ook hul broer, Eric, op net 55 jaar. Van die gesin van vyf was net hul ma nog gesond. En nou was die susters se lewe in die weegskaal.
Dié nag kon Wendy net nie verby die syfers kyk nie. Met gr. 2-borskanker was haar kans om oor vyf jaar nog te leef maar 70 persent. Vir haar kleinsus, met gr. 3-kanker, was dit net 30 persent. Alles het so duister gelyk . . .
Dit was toe dat Norma haar met ’n enkele vraag na die werklikheid terugruk: ‘‘Sus, sê my, is jy gemiddeld?’’
Wendy, ’n rekenmeester, vertel dit het haar soos ’n bom getref: Sy was nog altyd ’n go-getter! ‘‘Ek het besluit ek sou almal wys ek is nie gemiddeld nie, ek sou leef,’’ vertel sy vandag, twee jaar ná daardie keerpunt in haar lewe.
Lees meer oor die spesiale susters in Huisgenoot van 13 Augustus.