Friday, 07 August 2009

VARKGRIEP: WAT JY MOET WEET


Eers was dit net koors, ’n seer lyf, ’n toe neus en ’n pynlike keel met ’n gehoes en ’n geproes. Ses dae later was dit longontsteking. Twee dae later is hy oorlede . . .

En nog ses dae later hoor sy bedroefde ma met ’n skok: Haar lewenslustige seun met die drome om ’n rockster te word, was inderwaarheid die eerste Suid-Afrikaner wat aan Mexikaanse griep, oftewel varkgriep of die A/H1N1-virus, gesterf het.

Nou worstel die familie met die kwessie of hy dalk nog sou geleef het as hy betyds die antivirale middel Tamiflu gekry het toe hy met longontsteking in die hospitaal beland het.

Wilma Batt (55) van Durbanville buite Kaapstad kan steeds nie glo hoe vinnig haar jongste seun van hulle weggeraap is nie. Ruan Muller (22), ’n vierdejaarstudent in polimeerwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, was fiks en sportief, ’n jong man wat graag rugby, krieket en gholf gespeel het.Toe hy ná ’n week se siekte en ondanks twee besoeke aan die kampusdokter op Stellenbosch en twee kursusse antibiotika nog net so siek was, het hy sy ma die Saterdagaand gebel en gevra sy moet hom kom haal. Hy wou nie self ry nie, want hy was te lomerig van die medisyne.

Die Sondag was dit sy verjaardag, maar hy het so siek gevoel dat hulle nie kon gaan uiteet nie. Die aand om so halfelf het sy broer Stephan (27) opgelet hy haal snaaks asem en dis toe dat Wilma met hom na die Durbanville Medi-Clinic om die hoek gejaag het.

Longontsteking is by hom gediagnoseer en hy is daarvoor opgeneem. “Die volgende dag het die dokter verduidelik Ruantjie het ’n atipiese bakteriële longinfeksie wat ongelooflik moeilik is om te behandel,’’ vertel Wilma. “Hulle het hom ’n sterk antibiotikum gegee en die dokter het my verseker hulle dek hom van alle kante.

“Elfuur die aand het Ruan gebel om te sê hulle plaas hom oor na die waakeenheid. Hulle was bekommerd oor sy suurstofvlakke en daar was meer mense wat hom kon monitor.

Lees meer oor die gevreesde virus in Huisgenoot van 13 Augustus.