Friday, 07 August 2009

Ek triomfeer oor bipolêr


Ek is 34 jaar oud, bipolêr en woon op George. As ek dink aan wat ek alles in my lewe deurgemaak het en waar ek vandag is, skroom ek nie om dit ’n wonderwerk te noem nie.

Vir mense met bipolêre gemoedsversteuring wil ek sê: Soos ek, kan jy ook daaroor triomfeer. Ná my pa se dood in die destydse Potgietersrus (Mokoane) het ek as vyfjarige saam met my ma na my stiefpa se beesplaas naby George getrek. Hy het ’n vinnige humeur gehad en ek was van kleins af bang vir hom.

My jare aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal was ’n fees – ver van die huis, ontspanne en gelukkig. Ongelukkig kon ek nie op my skoolwerk konsentreer nie, en ná mediese ondersoeke was daar steeds geen raad met my abnormale lomerigheid in die studiesaal nie. In 1992 het ek matriek deurge-skraap. In 1993 het ek my droom bewaarheid en by die weermag aangesluit. By die Heidelberg-leërgimnasium was ek ’n top-soldaat en het tweede uit 260 studente in ’n leierskapkursus geëindig.

Ek is toe na Pretoria verplaas, maar my werk daar was vervelig. Ek wou deel van die aksie wees, maar my eenheid wou my nooit na ’n infanterie- of reaksiemag-eenheid verplaas nie. Aan die einde van 1995 is ek daar weg en het toerisme in Vanderbijlpark gaan studeer. Ek het kwaai begin drink en nie die kursus voltooi nie.

In 1998 het ek by ’n steenmakery op Mokopane gaan werk. Toe kry ek die tyding uit George dat ’n vriend se broer wreed vermoor is. Skielik was ek weer ’n soldaat en ek het myself ‘‘maj. Steinberg’’ genoem. Ek wou alle misdadigers vir hul dade laat boet.

Ek het polisiekantore binnegevaar, oorgehaal om geregtigheid te laat geskied. Allerhande blink planne het teen die spoed van ’n sneltrein deur my brein gejaag. Woorde kon nie vinnig genoeg uit my mond rol nie. Een stasiebevelvoerder kon sien ek is nie myself nie. Hy het saamgespeel en gesê ons gaan na die ‘‘intelligensiekantore’’ vir samesprekings. Maar toe word ek in ’n kliniek opgeneem.

Lees Eksteen Steinberg se volledige verhaal in Huisgenoot van 13 Augustus.