
In die hotel in Kaapstad waar hulle hom die eerste keer ontmoet het, het hy heel sjarmant gelyk in sy netjiese klere. Maar toe hulle die boer eers op sy eie plaas met ’n “haglike huis en muf kos in sy yskassie’’ sien, wou hulle net weghardloop.
Vir Ansebé en June, die twee vroue wat saam met Flip na sy plaas in die Langkloof is om dié deelnemer aan die gewilde TV-reeks Boer Soek ’n Vrou beter te leer ken, was dit reeds ’n skok om te hoor hulle kry onver-wags geselskap.
Die 54-jarige vrugteboer het die twee geskokte vroue op hul eerste oggend op die plaas voorgestel aan Wenda, en vertel hy wil dié nuweling − wat hy kort tevore in ’n musiekwinkel in George ontmoet het − glo dieselfde kans as vir hulle gee om sy hart te wen. Maar daar was veel groter skokke op die plaas as Wenda, verklap hulle nou.
“Die eerste was sy plaas wat so verwaarloos is,’’ vertel June Smith (57), ’n rekenmeester wat haar eie praktyk op Hartenbos met groot ondernemings as kliënte bedryf.
“Die tweede skok was sy rassistiese verwysings na plaaswerkers toe ek hom oor sy perskebome vra wat nog nie gesnoei is nie.’’
Toe die vroue die eerste dag so halfelf se kant daar aankom, het hulle Wenda ontmoet en almal het saam op die plaas gaan stap. Met hul terugkeer het hulle gedink hul gasheer gaan vir hulle ’n drankie en iets te ete aanbied, maar watwou. “Ons kon vir ons koffie maak, maar ek hoef jou seker nie te vertel hoe sleg smaak die goedkoopste kitskoffie gemeng met sigorei nie!’’ sê Ansebé Pieterse, ’n ontvangsdame by ’n dokterspraktyk noord van Kaapstad.
Dit gaan nie oor geld nie. Dit gaan oor smaak, styl en basiese goeie maniere, sê June. En die laaste strooi was die kru taal wat hy teenoor hulle gebruik het. Selfs verblyf op ’n vyfsterplaas sou nie in sulke omstandighede gedeug het nie.
Die volledige artikel verskyn in Huisgenoot van 3 September.