
Dis Donderdag 6 Augustus en die wagkamer op Wesselsbron in die Vrystaat is stampvol. Dis grieptyd en dit was ’n taai week waarin hy twee pasiënte verloor het. Dis net ná 12:00 en dr. Eduan van Rensburg (47) is in daardie stadium die enigste arts in die praktyk. Dan lui die telefoon.
Die stem aan die ander kant is angstig; Eduan kan hoor daar is groot fout. ‘‘Dokter moet kom; hier sit ’n man in die stroper vas!’’
Sy vrou, Lourencia, ’n verpleegkundige, lei af wat gebeur het en terwyl haar man nog praat, pak sy reeds die nodige in sy dokterstas. Verbande, drups en nog wat.
Die Bakkese van die plaas Eliaburg het reeds ’n ambulans gebel en die paramedici is van Welkom af op pad. Maar dit is ’n goeie 70 km en hulle moet ook nog die slegte stuk grondpad na Eliaburg aandurf. Eduan is net 15 km van die plaas af, maar hy besef die tyd is min. Die pasiënt se been is beseer en hy kan baie bloed verloor. As hy te lank daar lê en bloei, kan hy sterf. Elke oomblik tel nou.
Hy bel vir Jan Greyling en sy vrou, Charlotte Herbst-Greyling, twee ER24-paramedici wat gelukkig op Wesselsbron bly. Hulle spring in hul voertuig en jaag ook plaas toe. Op Eliaburg staan die werk stil. Uit die mielielande kan almal Thabo Sefako (22) se bloedstollende gille hoor.
Niemand weet hoe die stukwerker in die stroper beland het nie, maar toe die ongeluk gebeur, het die drywer onmiddellik die masjien afgeskakel. Stoffel Bakkes en van die plaaswerkers het gedoen wat hulle kan, maar die lemme wat so behendig die mieliekoppe van die plante stroop, het Thabo se regterknie vergruis en sy been sit nou saam met sy denimbroek en oorpak in daardie lemme vas.
Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 20 Augustus.