Friday, 21 August 2009

Help! Ons is toe onder die skuld


Terwyl die resessie ons ál meer in ’n wurggreep het, raak ál meer Suid-Afrikaners nog dieper in die skuld – en moet met die stres, verleentheid en vernedering saamleef as die situasie handuit ruk. As jy besef jy kan nie meer al jou maandelikse verpligtinge nakom nie, is dit tyd dat jy die diens van ’n skuldberader bekom, sê Moeshfieka Botha, die media-en-kommunikasiebestuurder van Credit Matters in Kaapstad. Dit is een van die land se grootste geregistreerde skuldberadingsondernemings. Maar moenie wag tot jy betalings oorgeslaan het nie.

“Baie mense leef in ontkenning,” sê sy. “As jy meer uitgee as wat jy verdien, is jy in die moeilikheid.” As jy die probleem wil oplos, is die eerste stap om te erken jy het ’n probleem, sê Moeshfieka. “Eers dan kan jy iets daaraan doen.”

Skuldberading is in 2007 ingestel om verbruikers hul skuld te help delg, en alle skuldberaders moet by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) gelisensieer word. In hierdie moeilike ekonomiese tyd maak meer mense as tevore van die diens gebruik. Tot einde Julie is 93 018 Suid-Afrikaners al onder skuldhersiening geplaas. “Elke maand daal die aantal verbruikers met ’n goeie kredietgeskiedenis met 4 persent,” skets Moeshfieka die donker prentjie.

Tog is daar mense wat danksy skuldberading weer beheer oor hul finansies gekry het. Hier is hul verhale. En onthou, dieselfde hulp is vir jou beskikbaar as jy in die knyp is.

Mark se verhaal Mark Stevens*, ’n kosteklerk in die motorbedryf, is gelukkig getroud en die pa van een kind wat op laerskool is. Hy is die broodwinner, en omdat hy en sy vrou nie binne gemeenskap van goedere getroud is nie, is slegs sy salaris en uitgawes onder skuldhersiening geplaas. Mark (35) verdien maandeliks sowat R10 000 ná belasting, maar met ’n skuldlas van alte-saam R300 000 het sy terugbetalings R13 000 per maand beloop.

* Skuilnaam

Lees in Huisgenoot van 27 Augustus wat kenners sê oor skuld wat onhanteerbaar raak.