Friday, 21 August 2009

Clarina was toe al boervrou!


Sy's ’n stylvolle, elegante vrou, ’n ware vangs vir enige boer. Maar die lang, lenige Clarina Linde is ook ’n vrou met ’n interessante verlede – een waarin sy juis ’n boer geweeg en te lig bevind het.

Dit is veral in Van Zylsrus se wêreld in die Noord-Kaap waar die tonge nou los is. Wat die mense daar nie kan kleinkry nie, is waarom ’n vrou wat nou die dag nog met die “volmaakte boer” getroud was, nou weer
na ’n boer vry – en dit nogal op televisie.

Toe Clarina die dag as “buiteperd” in die reeks Boer Soek ’n Vrou ingeglip het nadat Ludwig van Ficksburg haar onverwags uit ’n ander man se spannetjie vir sy topvyf gekies het (Ludwig maak ’n plan, 13 Augustus), het die telefoonlyne in die Kalahari reeds begin gons.

Clarina (31) het eintlik haar oog op ’n ander boer gehad, maar nadat Ludwig haar raakgesien en herken het as ’n ou skoolvriendin van sy suster, wag kykers nou in spanning om te sien of die twee dalk gaan afhaak.

Maar as haar vorige ervaring as boervrou ’n maatstaf moet wees, moet ons dalk nie te veel hoop vestig op ’n sprokieseinde nie . . .

Haar en Dirk van Eeden se troue in April 2005 was so na aan ’n sprokies-bruilof as wat kan kom – hy die aantreklike, welgestelde boer in sy lugdiensuniform en sy die mooi, blonde onderwyser wat op die troufoto’s liefdevol vir haar bruidegom glimlag.

Hierdie prentjiemooi troue was op Frankfort, haar geboortedorp, en vriende en familie was in vervoering oor hierdie twee mooi mense wat mekaar gevind het. Clarina het toe as mediese verteenwoordiger in Pretoria gewerk, terwyl Dirk sy tyd tussen sy verpligtinge as vlieënier vir ’n lugdiens en die plaas verdeel het. Ná die troue het hulle in Pretoria gebly, maar naweke is hulle plaas toe om na Dirk se vooruitstrewende bees- en skaapboerdery om te sien.

Foto’s en die volledige verhaal van Clarina se eerste huwelik in Huisgenoot van 27 Augustus.