
Dis ’n saak wat alle skelmpies se nekhare sal laat rys – ’n Johannesburgse vrou moes onlangs R75 000 skadevergoeding aan haar minnaar se vrou betaal nadat sy hul huwelik op die rotse laat beland het.
Toe Kamini Greadie sewe jaar gelede ’n verhouding met Anand Gounder van Pietermaritzburg aanknoop, sou sy min kon raai dat dit haar nog duur te staan sou kom – en nie net emosioneel nie.
Kamini het glo aanvanklik nie geweet haar nuwe liefde is getroud nie. En toe sy dit die dag wel uitvind, was die vet glo in die vuur en die koeël deur die kerk, want pleks dat sy hom na die warm plek toe stuur, het die twee duifies ongestoord met hul dinge voortgegaan.
Anand, klaar die pa van twee kinders by sy wettige vrou, het die volgende jaar toe nog enetjie bygekry – ’n dogtertjie by sy minnares. En toe Kamini van Pietermaritzburg na Johannesburg verhuis, is hy agterna om saam met haar in haar nuwe blyplek in te trek.
Sy vrou, Kamintha, was woedend en het besluit sy sal die “ander vrou” vir haar sondes laat betaal. Sy het Kamini vir R200 000 gedagvaar vir die verbrokkeling van haar en Anand se huwelik, en is toe verlede maand uiteindelik R75 000 deur die hof toegeken, wat – sover vasgestel kon word – ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in so ’n saak is.
Regskenners meen dié saak kan regters beweeg om in die toekoms groter bedrae toe te ken aan mans en vroue wie se wederhelftes buite-egtelike minnaars het. Een so ’n saak wat juis nou nog verhoor moet word, is dié teen J. Arthur Brown, die omstrede man midde-in die Fidentia-geldskandaal. Rocco van den Bergh, voorheen ’n vriend van Arthur, dagvaar hom vir R500 000 omdat hy glo sy vrou, Lizé, afgevry het.
Die uitspraak in Kamintha se saak kan dalk nou interessante gevolge vir skelmpies inhou. Lees meer in Huisgenoot van 3 September.