
Hy is nie net een van die beste snelboulers ter wêreld nie, maar ook ’n man wat die skares gereeld met sy kolfvermoë en rats veldwerk verstom. Geen wonder Australië se Mitchell Johnson word as een van internasionale krieket se beste veelsydige spelers beskou nie.
Maar hier vroeg in die onlangse toer om die As tussen Engeland en Australië was dit kompleet asof Mitchell sy vonk en sy fut verloor het. En die mense in die binnekring het beweer hulle weet hoekom: Dit was daardie uitval met sy ma. So, nog voor jy kon sê: “Haai, siestog!” het dié 27-jarige super-sportheld ’n nuwe bynaam gekry: Mamma-se-seuntjie.
Vikki Harber (45) se aanmerkings dat haar seun meer aandag gee aan sy nuwe verloofde as aan sy ma, was blykbaar genoeg om dié vreeslose sportman ineen te laat stort. En wêreldwyd het ’n debat weer opgevlam oor ’n eeue oue onderwerp: die vreemde verskynsel van ma’s wat hul seuns blykbaar nie kan laat los nie, en seuns wat boonop ewe gelate saamspeel . . .
Mitchell is ’n baie sensitiewe jong man en sy ma se ontevredenheid het sy selfvertroue ge-knou, sê Kim Hughes, voormalige Australiese kaptein.
“Daar was groot dinge wat sy aandag afgelei het en ek is seker dit het hom baie erg geraak,” het Australië se krieketlegende Shane Warne beaam.
Die probleme het verlede maand begin toe Vikki, wat Mitchell van sy negende jaar alleen grootgemaak het nadat sy geskei is, aan die media gesê het sy moes haar seun aan sy verloofde afstaan. Mitchell het verlede jaar na Perth getrek om nader te wees aan sy verloofde, die Australiese karatekampioen en model Jessica Bratich. Vikki beweer haar verhouding met haar seun het verswak sedert hy en Jessica begin uitgaan het.
“Ons was baie, baie geheg aan mekaar, maar hy het nie ’n nag onder my dak deurgebring sedert hy haar ontmoet het nie,” het sy aan ’n Australiese koerant gesê.
‘‘Sy het saam met hom na Suid-Afrika, Engeland en die Bahamas gevlieg. Sy kry nou die reise, verblyf, kos en al daai goed.”
Lees in Huisgenoot van 20 Augustus wat kenners van Mamma-se-seuntjies sê.