Friday, 14 August 2009

Dis hel op wiele vir busdrywers


Soos slawe is hoe sommige langafstandbusbestuurders behandel word. En jy, die onskuldige passasier, kan met jou lewe betaal.

Verlede maand weer is sewe mense dood en meer as 50 beseer in ’n gru-busongeluk buite Beaufort-Wes. Dit was weer ’n bus van SA Roadlink – soos verskeie ander wat die afgelope tyd in ongelukke betrokke was.

Die bus was van Johannesburg na Kaapstad onderweg. Die oorsaak van die ongeluk is steeds nie bekend nie en die bestuurder het kort ná die ongeluk aan die polisie gesê hy kan nie veel van die voorval onthou nie.

Die bus wat gestuur is om die oorlewendes op te laai was onklaar – daar was onder meer probleme met die remme . . . Maar bestuurders wat oormoeg is, kan net sulke ernstige probleme soos meganiese gebreke veroorsaak.

Hoewel die meeste groot plaaslike busmaatskappye lid is van die Suid-Afrikaanse Padpassasiersbedingingsraad, ’n beheerliggaam wat na die belange van busbestuurders omsien, tel SA Roadlink nie onder hulle nie. “Hierdie maatskappy dobbel met ons lewe,” sê ’n Kapenaar wat voorheen ’n busbestuurder by SA Roadlink was.

“Ek moes binne 48 uur van Johannesburg na Kaapstad en weer terug ry. Daar was ook nooit ’n mede-bestuurder om my af te los op die lang roetes nie. Dit het dikwels 25 dae aaneen so aangegaan, met net ’n halfdag se rustyd tussenin.Dis ’n wonderwerk dat ek nie ’n ongeluk gemaak het nie.”

Talle ander klagtes het intussen ook aan die lig gekom – soos van bestuurders wat tot 12 uur aaneen sonder ’n aflosbestuurder of ’n ruskans moet ry, asook bestuurders wat afgedank word as hulle oor die lang werkure en die onpadwaardige busse kla.

Die bestuurders word glo ook geviktimiseer of afgedank as hulle by ’n vakbond wil aansluit – iets wat onwettig is. SA Roadlink ontken dit. Busbestuurders by alle maatskappye verdien tussen R300 en R450 per rit en ontvang dikwels geen vaste salaris nie.

Lees meer in Huisgenoot van 20 Augustus oor hierdie skokkende toedrag van sake in die busvervoerbedryf op ons paaie.