Friday, 21 August 2009

Plaas van wyn en pyn


Sy't nou die aand ’n growwe Engelse woord vir ’n manlike geslagsorgaan gebruik toe sy hom invlieg. Hy speel met mense, het sy bygevoeg. En sy’t gesê dat sy nie meer vir een oomblik glo hy’s ’n boer wat ’n vrou soek nie.

En by die woorde staan sy, sê Ashley Pugh (37) van Hartbeespoortdam, een van die drie vroue in die televisiereeks Boer Soek ’n Vrou wat nou by Pieter Hanekom (44) op sy wynplaas buite Franschhoek kuier.

Sy het dié woorde kwytgeraak toe die drie vroue op hul eerste aand saam met Pieter aan tafel geëet het.

“Ek is nie ’n teef nie,” sê sy nou aan Huisgenoot, “maar ek glo in geregtigheid en eerlikheid.

“Ek sal nie my mond hou as iemand my of enigiemand anders beduiwel nie. En dit gaan nie oor ’n enkel- of dubbelbed nie, maar oor ’n spel waar daar nie by die reëls gehou is nie.”

In die vyfde episode van hierdie werklikheidsreeks het sy, Suné Greeff (32) van Kaapstad en Lynda Smuts (28) van Malmesbury op ’n Maandagoggend op die plaas aangekom om ’n week saam met Pieter deur te bring.
Elkeen het haar kamer gekry en Ashley wou verontwaardig weet waarom Lynda die kamer met die mooi uitsig en dubbelbed het.

“Dis maar al wat die kykers sien,” sê sy nou, “maar daar was ’n aanloop. Dinge het die vorige aand al begin gebeur, en dit is wat my hierdie vrae laat vra het oor waarom hy almal dan nie gelyk behandel en ons laat strooitjies trek om te bepaal wie slaap waar nie . . .”

Die Sondagaand voor die vroue se kuiertjie van vyf dae by Pieter sou begin, het hulle saam met die filmspan in ’n gastehuis op Franschhoek oornag.

“Lynda het met haar eie voertuig daar aangekom en weer vertrek.

“Sy het my vroeër gebel en gevra of ons kan gesels. Kort voor aandete het sy met drank teruggekeer en sy was goed aangeklam,” vertel Ashley.

Lees in Huisgenoot van 27 Augustus wat alles agter die skerms gebeur.